Vermeende reeksverkragter in Hermanus vasgetrek

Argieffoto

ʼn Vermeende reeksverkragter is in Hermanus, oos van Kaapstad, in hegtenis geneem.

Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, het Sondag gesê gedurende September 2015 tot Maart 2018 was daar vermoedelik ʼn reeksverkragter in die Zwelihle-Hermanus-gebied bedrywig. In Maart 2016 is die dossiere aan die eenheid vir reeks- en elektroniese misdade en eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe oorhandig om verder ondersoek te word.

“Teen daardie tyd was daar vyf sake waarin dieselfde werkwyse gevolg is. Al hierdie sake is met mekaar verbind deur dieselfde DNS. Die identiteit van die oortreder was egter onbekend,” het Van Wyk gesê.

“Die slagoffers het hom beskryf as ʼn man in sy mid- tot laat 20’s wat hulle genader het terwyl hulle alleen in die Zwelihle- informele nedersetting geloop het. Hy het hulle dan, meestal met ʼn mes, gedwing om te stap na ʼn afgeleë gebied waar hulle beroof en verkrag is. Die meeste misdaadtonele was by ʼn ou stortingsterrein. In die meeste gevalle het die verkragter ʼn balaklawa of sykous oor sy gesig gehad, wat dit moeilik gemaak het om hom te identifiseer.”

In die volgende paar maande is nog sake met dieselfde werkwyse en patroon aangemeld.

Op 4 Maart vanjaar het lede van die SAPD in Hermanus ʼn verdagte man gesien wat by die ou stortingsterrein geloop het. Hulle het hom in hegtenis geneem in verband met ʼn verkragting wat net die vorige dag plaasgevind het. ʼn Balaklawa, sykous, mes en rol toiletpapier is in die man se besit gevind.

“Weens ʼn tekort aan bewyse is die man vrygelaat. ʼn DNS-monster is egter uit sy mondholte geneem en na die forensiese laboratorium gestuur. Op 24 Mei het die DNS-uitslae die man verbind met 11 sake van verkragting,” het Van Wyk gesê.

“Die man is die volgende dag in hegtenis geneem en het reeds in die Hermanus-landdroshof verskyn. Hy sal môre sy tweede verskyning in die hof maak.”

Weens die seksuele aard van die aanklagte teen die beskuldigde mag sy naam nie bekendgemaak word alvorens hy gepleit het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.