Vermeende renosterstroper doodgeskiet

Een van die renosterkarkasse. (Foto: SAPD)

Die foto in die berig is grafies van aard en nie geskik vir kinders of sensitiewe lesers nie.

’n Vermeende renosterstroper is Dinsdag na bewering deur veiligheidswagte op ’n wildsplaas buite Lephalale (Ellisras) in Limpopo doodgeskiet.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, sê veiligheidswagte by ’n wildsplaas in die omgewing van Dorset het in die vroeë oggendure geweerskote gehoor. Die veiligheidswagte het ondersoek ingestel en op drie onbekende mans afgekom. Een van dié mans was gewapen.

Volgens Mojapelo het die veiligheidswagte probeer om die mans aan te keer toe een van die mans op hulle probeer skiet het. Die man is toe glo deur die veiligheidswagte doodgeskiet waarna sy makkers die bosse in gevlug het.

Die polisie is na die toneel ontbied waar hulle later ’n byl, twee renosterkarkasse, drie renosterhorings en ’n vuurwapen met skerp ammunisie op die plaas aangetref het.

Die byl waarop beslag gelê is. (Foto: SAPD)

Volgens Mojapelo word ’n saak van moord, renosterstropery en die onwettige besit van ’n vuurwapen ondersoek.

Die oorledene se identiteit is in dié stadium onbekend.

Enigiemand met inligting rakende die saak word versoek om ao. JJ van Heerden by 082 414 2337 of die Misdaadstopnommer by 086 001 0111 te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

SJME ·

Verskriklike nuus! Ek haat die liefde vir geld met my hele wese!

Dis tyd dat daardie moordenaars ‘n losprys op hulle koppe kry! Dan sal ons sien hoeveel hardloop weg en, kom weg…

Gato ·

Ek hoop die saak van moord wat ondersoek word is die moord op die renosters.
Die veiligheidswagte het die krimineel dood geskiet uit self verdediging nadat hy op hulle geskiet het. Hoe op dees aarde kan dit moord wees?

Danny ·

Ek hoop van harte hulle kry die ander verdagtes, die natuur gaan te swaar onder die gierigheid van die aardse bestaan gebukkend. Ons is geskep en geskape om om te sien na God’s werke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.