Vermeende renosterstropers in die hof

Argieffoto Foto: wwf.panda.org

Argieffoto Foto: wwf.panda.org

Twee vermeende renosterstropers sal na verwagting Maandag in die landdroshof in Phalaborwa verskyn.

“Die mans is Saterdagoggend omstreeks 02:45 in Gravelotte, Limpopo, in hegtenis geneem,” het brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die polisie in Limpopo, gesê. “Die polisie het inligting ontvang dat daar na bewering stropery plaasvind op ʼn plaas in Gravelotte.” Gravelotte is ongeveer 50 km noordwes van Hoedspruit geleë.

“Ons het ʼn vuurwapen, waarvan die reeksnommer afgevyl is, opgespoor. Die mans het ook ʼn byl en ʼn panga by hulle gehad. Die polisie het ook die voertuig, waarmee hulle gery het, gekonfiskeer,” het Mulaudzi bygevoeg.

Hy sê die dossier is aan die georganiseerdemisdaad-eenheid oorhandig wat die mans se profiele saamgestel het. Die vuurwapen is ook vir ballistiese toetse geneem om te sien of dit in enige ander misdaad gebruik is.

Die mans sal op aanklag van poging tot stropery en besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen in die hof verskyn.

Vyf mans het verlede week in die Phalaborwa-landdroshof verskyn vir die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen. Thulani Siwela (28), Doctog Ngwenyama (36), Given Mashaba (30), Vusi Matsane (45) en Robert Sondlani (38) is ook in Gravelotte in hegtenis geneem nadat hulle glo op pad was om ʼn renoster by ʼn nabygeleë wildreservaat te stroop. Die polisie het op ʼn jaggeweer, waarvan die reeksnommer afgevyl is, 20 rondes ammunisie en drie slagmesse afgekom. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anne ·

Ek hoop regtig daar word geen genade aan hierdie wreedaards betoon nie, hierdie arme diere word genadeloos doodgemaak en gemartel

Jasper ·

As hulle net die Groot Pappa kan vang wat die goed by hulle koop.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.