Vermeende renosterstropers in hof

hof-hamer

Argieffoto.

Sewe verdagtes wat in hegtenis geneem is vir vermeende renosterstropery nadat die polisie ʼn wenk ontvang het, het Dinsdag in ʼn hof in Noordwes verskyn.

Lt.kol. Adele Myburgh, woordvoerder van die polisie, het gesê dié sewe, tussen 32 en 55 jaar oud, het in die Taung-landdroshof verskyn. Een van die verdagtes is op borgtog met spesifieke voorwaarde vrygelaat aangesien sy ʼn operasie moet ondergaan, het Myburgh gesê.

Die ander ses verdagtes sal op 22 Mei weer in die hof verskyn wanneer hulle na verwagting om borgtog sal aansoek doen.

Die verdagtes is op 13 Mei vasgetrek tydens ʼn misdaadintelligensiegedrewe operasie toe beamptes van verskillende polisie-eenhede inligting opgevolg het oor vermeende renosterstroping wat op ʼn wildsplaas naby Mokopong sou plaasvind.

“Tydens die operasie is ʼn verdagte VW Polo met vier insittendes daarin naby Morokweng voorgekeer en deursoek. Die vier mense in die voertuig is in hegtenis geneem,” hy sy gesê.

Verdere ondersoek het die span na ʼn woning in Dry Harts gelei waar ʼn Toyota-bakkie in ʼn erf geparkeer gestaan het, het Myburgh gesê. Drie verdagtes is by dié woning in hegtenis geneem nadat daar ʼn vuurwapen-knaldemper, ammunisie, ʼn jaggeweer en messe in die bakkie aangetref is.

Die verdagtes staan tereg op aanklagte van die besit van ʼn onwettige vuurwapen en ammunisie asook sameswering om ʼn misdaad te pleeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.