ʼn Verdagte is in die hospitaal onder polisiebewaking ná ʼn skietery met die Valke Vrydag in Randfontein.
“Die Valke, Ekurhuleni-misdaadintelligensie, Tracker Connect, SAPD-hoofwegpatrollie, Gauteng-verkeerspolisie, Badboyz Security en Vision Tactical Security het ʼn operasie uitgevoer ná inligting ontvang is oor verdagtes wat Rolex-rooftogte en huisrooftogte uitvoer,” sê ao Bonnie Nxumalo, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke). “Die verdagtes is in ʼn Audi A3 opgemerk in die rigting van Randfontein. Hulle is opdrag gegee om stil te hou.”
ʼn Skietery het tussen die verdagtes en die beamptes ontstaan. Een van die verdagtes is doodgeskiet en die ander verdagte is beseer. “ʼn Polisie-aanstellingskaart is in die oorlede verdagte se besit gevind.”
Beamptes het beslag gelê op twee vuurwapens, ammunisie, selfone en nommerplate. Daar is ook bevind die verdagtes se voertuig is in Julie vanjaar in Parkview gekaap.
“ʼn Ondersoek om die verdagtes moontlik ook met ander misdade te verbind duur voort. Sake van moord, poging tot moord, die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie en die besit van vermoedelik gesteelde eiendom is aanhangig gemaak,” het Nxumalo bygevoeg.
Die verdagte sal in die Randfontein-landdroshof verskyn sodra hy uit die hospitaal ontslaan word. Die span is ongedeerd.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
7 Kommentare
Sjoe.. al wat geskort het was die spoorwegpolisie!
Sy Rolex tyd het uitgeloop.
As dit die tipe van lewe is wat mens verkies om te lei is die uitkoms meestal onafwendbaar.
Die verdagte kry alweer gratis behandeling in die hospitaal.
Ek hoop alle misdaad kan so hanteer word vir hierdie gevaarlike misdadigers, skiet en skiet dood. Dit sal hulle hopelik twee maal laat dink. Ons is moeg van misdaad, moeg dat misdadigers floreer terwyl wetsgehoorsame burgers moet swaarkry.