Vermeende rower doodgeskiet; makker gewond

Argieffoto: SAPD / Facebook

Argieffoto: SAPD / Facebook

ʼn Vermeende rower is Woensdagoggend in Phoenix, KwaZulu-Natal doodgeskiet en ʼn tweede verdagte gewond in ʼn skietgeveg met die polisie.

“Een van die verdagtes is in die hospitaal oorlede,” het kapt. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, gesê. “Die tweede verdagte bly onder polisiebewaking in die hospitaal.”

Die polisie het ʼn wenk ontvang oor ʼn beplande huisbraak in die omgewing. “Beamptes was op die uitkyk en het uiteindelik ʼn verdagte Toyota Etios opgemerk, soortgelyk aan die beskrywing wat hulle ontvang het. Die motor het by ʼn perseel ingery, maar toe hulle die polisiebeamptes gesien het, het hulle gevlug en op die beamptes losgebrand.”

Volgens Zwane het die beamptes teruggeskiet en die verdagtes het in ʼn ander motor vasgery.

Die polisie het beslag gelê op twee ongelisensieerde 9mm-pistole. “Een van die vuurwapens wat die verdagtes by hulle gehad het, het aan ʼn polisiebeampte behoort wat in Qumbu in die Oos-Kaap doodgeskiet is,” het Zwane bygevoeg.

“Die beseerde verdagte word ook in Qumbu gesoek in verband met moord, poging tot moord en ontsnapping uit aanhouding.” Hy sal in die Phoenix-landdroshof verskyn sodra hy uit die hospitaal ontslaan word. Hy staan tereg op aanklag van poging tot moord, poging tot huisbraak en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.