Vermeende rower langs kar gesleep; nog nie in hof

Hennie Fick

Hennie Fick

Hennie Fick, die hoof van die Hartland-kollege in Pretoria se middestad, is vol lof vir die Tshwane-metropolisie nadat hulle met behulp van die hul kringtelevisiekameras binne ʼn halfuur drie verdagtes in hegtenis geneem het wat hom by ʼn verkeerslig wou kaap en beroof.

“Dit is so goed om te weet ʼn mens is nie alleen in jou bereidwilligheid om teen misdaad op te staan nie,” het Fick Vrydag aan Maroela Media gesê.

Fick het verlede Donderdag geweier om ʼn slagoffer van misdaad te word en teen sy aanvaller opgestaan. “Ek was op pad huis toe en het by die kruising van Nelson Mandelarylaan en Johannes Ramokhoaseweg (Proesstraat) by ʼn rooi verkeerslig stilgehou,” het Fick verduidelik. “Ek het my venster oopgedraai om vars lug te kry. Twee mans het my van agter genader en hul hande in my motor ingedruk en vir my selfoon gevoel. Hulle wou ook my motorsleutels afneem.”

Hy het een van die rowers se hande weggeklap, waarna die man ʼn mes uitgepluk en Fick in sy linkerarm gesteek het. “My motor het elektriese vensters. Elke keer wat ek dit wou toemaak, het die man daarop gekap dan sak dit weer terug. Ek het vir die knaap gesê dat hy nie my goed gaan vat nie. Gelukkig in daardie stadium het die verkeerslig na groen verander en was daar spasie aan my linkerkant. Ek het die man se arm gegryp en met hom daar weggery.”

Die rower is sowat 500 meter ver in die pad af gesleep voordat Fick hom laat los het. Die verdagte het agteroor geval. Fick het verder gery om hulp te ontbied.

Intussen het die metropolisie die hele voorval op kringtelevisie afgeneem. “Ek was by ʼn apteek terwyl ʼn apteker my wond behandel het, toe die metropolisie my bel en sê hulle het die mans in hegtenis geneem. Hulle het my selfoonnommer deur my nommerplate opgespoor. Ek is direk daarna na die metropolisie se bedryfsentrum en was baie beïndruk met hoe skoon en netjies dit daar is, en om te sien hoe doeltreffend die stelsel werk,” het Fick gesê.

Hy het gesê hy was ook verras om te sien watter goeie werk die beamptes doen en hoeveel kriminele die amptenare al op hierdie manier opgespoor het.

Die drie verdagtes is nog steeds in aanhouding by die Pretoria-Sentraal-polisiestasie. Hulle het nog nie in die hof verskyn nie.

Fick het Donderdag, ʼn week na die inhegtenisnemings, sy saaknommer gekry en sal in kennis gestel word sodra die hofsaak begin. “Ek is rustig oor die voorval. Ek is baie bly dat ek terugbaklei het, en dat die saak só uitgedraai het,” het hy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

alet ·

Dis n goeie idee as almaal dit doen sal daar n paar van hulle hard val mooi man

Grassie ·

Goed gedoen, mnr Fick. Jy stel ‘n goeie voorbeeld. Ek is ook beïndruk met die polisie se optrede.

Desire ·

Ek wonder of die Mr Fick skool gehou het(Wetenskap as ek reg onthou) by Laerskool Witfield in Boksburg in 1991!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.