ʼn 28-jarige verdagte het Maandag in die landdroshof in Brits verskyn op aanklagte van huisroof met verswarende omstandighede.
Talent Moyo is Saterdag 2 November omstreeks 16:30 in hegtenis geneem nadat hy opgeneem is in ʼn hospitaal in Ga-Rankuwa, Pretoria.
“Volgens die inligting tot ons beskikking is Moyo beseer toe ʼn skietery uitgebreek het tussen hom en die huiseienaar in Brits wat hy Donderdag 31 Oktober probeer beroof het,” sê brig. Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder van Noordwes.
Die verdagte het glo ʼn vals naam gebruik toe hy homself in die hospitaal laat opneem het. “Die polisie het egter inligting hieroor ontvang en hom met sy ontslag uit die hospitaal in hegtenis geneem,” sê Mokgwabone.
Volgens Mokgwabone word die verdagte ook verbind met ʼn sakeroof op 21 Oktober by die Panorama-winkelsentrum in Brits, waar 12 swaar gewapende mans drie winkels van ʼn onbekende bedrag kontant beroof het. Hy word ook verbind met verskeie ander sakerooftogte in Brits en Rustenburg.
Hy verskyn weer in Januarie volgende jaar in die hof op verskeie aanklagte. Moyo bly intussen in aanhouding.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
9 Kommentare
HOPELIK kry die gespuis NIE Borg nie, anders is alles pure verniet!!!
Sluit hom toe sodat sy sondes en pyn hom tot ander insigte bring.
Hoe het hy gedink as hy hospitaal toe gaan sal hy skotvry daarvan afkom ,gee hom n pil en sluit die gespuis toe
Dankie aan die persoon wat SAPD laat weet het.
Dankie vir die wenk. Kan julle hom nou asb los dat hy uit bloei. Hoort nie in die samelewing nie. Well done huis eienaar.