Vermeende rower wil ‘bom’ in winkel laat ontplof

Argieffoto: Kent Williamson

Die polisie in Wentworth in KwaZulu-Natal het dié week ʼn “bom” by ʼn plaaslike supermark onskadelik gestel nadat ʼn vermeende rower glo beoog het om dié winkel te beroof.

Kapt. MP Gumede, woordvoerder van die polisie, sê die vermeende rower het glo Maandag ʼn tienjarige seuntjie, wat glo nié aan hom bekend is nie, buite die winkel gevra om ʼn bruin koevert aan die bestuurder van die winkel te oorhandig.

Gumede sê die koevert het glo ammunisie en ʼn handgeskrewe nota ingehad. “Die bestuurder het die brief in ontvangs geneem. Daarin is geëis dat hy geld in ʼn sak sit en dit buite die winkel neersit om te verhoed dat ʼn bom binne die winkel ontplof. Hy is ook aangesê om nié die polisie te kontak nie. Die tienjarige het beweer dat hy die koevert pas by ʼn onbekende man gekry het om aan die bestuurder te oorhandig,” sê Gumede.

Hy sê die bestuurder het die vermeende rower se opdrag geïgnoreer en die koevert na ʼn plaaslike polisiestasie geneem. Hy is deur die tienjarige vergesel.

“Die polisie is ontbied en het die toneel afgesper. Die polisie se bomopruimingseenheid en ʼn polisiehond het die winkel deursoek en afgekom op ʼn swart plastieksak by die ingang van die winkel naby die kassiere. Die sogenaamde bom is onskadelik gestel.”

Gumede sê niemand is in die voorval beseer nie en geen eiendom is beskadig nie.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Freek ·

Wat is die storie met al die bomme wat in die laaste tyd in KZN geplant word?

AmY ·

So, nou gebruik hulle sommer kinders om hulle ‘vuil werk’ vir hulle te doen?
Siek!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.