Vermeende rowers sterf in skietgeveg met polisie

Argieffoto

Twee vermeende rowers is Dinsdagoggend tydens ʼn skietgeveg met die polisie doodgeskiet.

Kol. Thembeka Mbhele, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn man was omstreeks 17:41 Maandag aan diens by ʼn sakeperseel in Ballito in KwaZulu-Natal toe hy deur vyf onbekende mans genader is.

“Hulle het vuurwapens op hom gerig en hom van kontant, ʼn horlosie en juweliersware beroof voor hul in ʼn wegkommotor van die toneel gevlug het. Geen skote is tydens die voorval afgevuur nie en ʼn saak van gewapende roof is by die Umhlali-polisiestasie aanhangig gemaak,” het Mbhele gesê.

Mbhele het gesê beamptes van die provinsiale taakspan, spesiale taakspan en die honde-eenheid het Dinsdagoggend vroeg inligting rakende die verdagtes opgevolg en ondersoek gaan instel by ʼn huis in Inanda.

“Soos die polisiebeamptes die huis genader het, het die verdagtes op hulle losgebrand. Twee verdagtes is tydens die skietery noodlottig gewond.”

Volgens haar is daar ook beslag gelê op twee ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie van die oorledenes.

Mbhele het gesê die ondersoek na die gewapende roof in Ballito duur voort en pogings is onderweg om die oorblywende verdagtes wat betrokke was by die voorval vas te trek.

Sy het bygevoeg die vuurwapens gaan gestuur word vir ballistiese toetse om vas te stel of dit in die uitvoer van enige ander misdade in die land gebruik is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.