Vermeende Rwandese volksmoordenaar verskyn in stampvol hof

Fulgence Kayishema in die landdroshof in Kaapstad (Foto: Rodger Bosch/AFP)

Fulgence Kayishema, vermeende Rwandese volksmoordenaar,  het koel en kalm voorgekom toe die aanklagte teen hom in die Kaapstadse landdroshof voorgelees is.

Kayishema het Vrydag, geklee in ʼn blou baadjie, swart broek en bril, vir die eerste keer sy plek in die beskuldigdebank ingeneem. Die hofsaal was volgepak en ʼn swaar polisieteenwoordigheid is deurlopend gehandhaaf.

Gewapende polisiebeamptes met kopskerms en koeëlvaste baadjies het Kayishema vergesel.

Die 62-jarige oud-polisieman staan tereg op aanklag van onder meer volksmoord en sameswering om volksmoord te pleeg. Bykomende aanklagte van bedrog en die oortreding van immigrasiewetgewing in Suid-Afrika staar hom ook in die gesig.

Verdere aanklagte sal waarskynlik volg.

In hierdie stadium is Kayishema se uitlewering aan Rwanda nog nie bespreek nie.

Ná ’n kort sy verskyning het landdros Ronel Oliver die saak tot 2 Junie uitgestel en Kayishema sal tot dan in aanhouding bly.

Die klagte waarop Kayishima oorspronklik vervolg word, hou verband met sy beweerde aandadigheid in die moord op sowat 2 000 Tutsi-vlugtelinge, onder wie mans, vroue, kinders en bejaardes, by ʼn Rwandese kerk. Hy is sedert 2001 voortvlugtig.

Hy is Woensdag by ʼn druiweplaas in die Paarl vasgetrek. Kayisema het die afgelope ruk op dié plaas onder ʼn skuilnaam, Donatien Nibashumba, gewoon en gewerk.

Slagting

Fulgence Kayishema in die landdroshof in Kaapstad (Foto: Rodger Bosch/AFP)

Kayishema word deur die VN se tribunaal vir oorlogsmisdade – die opvolger van die VN se hof wat talle groot verdagtes vervolg het – beskryf as “een van die wêreld se mees gesoekte volksmoord-voortvlugtiges”.

Ongeveer 800 000 Rwandese, die meeste van hulle lede van die etniese Tutsi-groep, is in 100 dae deur Hutu-ekstremiste vermoor.

Kayishema en ander het na bewering meer as 2 000 mans, vroue en kinders vermoor wat in ʼn Rooms-Katolieke kerk in Nyange in die Kivumu-distrik geskuil het.

“Kayishema het aktief deelgeneem aan die beplanning en uitvoering van hierdie slagting, onder meer deur petrol te bekom en te versprei om die kerk met die vlugtelinge daarin af te brand,” het die tribunaal Donderdag gesê.

“Toe dit misluk het, het Kayishema en ander ʼn stootskraper gebruik om die kerk om te stoot en die vlugtelinge daarin te begrawe en dood te maak.

“Kayishema en ander het toe toesig gehou oor die verskuiwing van die liggame van die kerkterrein na massagrafte.”

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het gesê die inhegtenisneming is gedoen in reaksie op ʼn rooi kennisgewing van Interpol.

Skuilname, vals dokumente

Fulgence Kayishema is een van vier verdagtes in die Rwanda-volksmoord van 1994 wat owerhede al jare lank ontwyk. (Foto: Simon Wohlfahrt / AFP)

Die soektog na Kayishema het oor die vasteland heen gestrek. Hy het verskeie aliasse en vals dokumente gebruik en het staatgemaak op ʼn “netwerk van betroubare ondersteuners”, het die tribunaal gesê.

Die VSA het ʼn beloning van soveel as $5 miljoen (sowat R98 miljoen) aangebied vir inligting wat tot Kayishema se inhegtenisneming, uitlewering of skuldigbevinding kan lei. Daar was egter geen besonderhede of hierdie aansporing ʼn rol in die inhegtenisneming gespeel het nie.

Die tribunaal het in 2015 die werk van die internasionale misdaadtribunaal vir Rwanda (ICTR), wat die VN ná die Rwanda-volksmoord op die been gebring het, oorgeneem.

Voor die oorhandiging van die leisels het die ICTR altesame 62 mense gevonnis en 14 vrygespreek.

Rwanda het in 1996 begin om volksmoordverdagtes op te spoor en tereg te stel en op ʼn enkele dag in April 1998 is 22 van hulle voor ʼn vuurpeloton tereggestel.

Die doodstraf in dié land is in 2007 afgeskaf.

Tussen 2005 en 2012 het meer as 12 000 gemeenskapsgebaseerde howe byna twee miljoen mense vir die volksmoord verhoor, waarvan 65% skuldig bevind en tronkstraf opgelê is.

Ander skuldigbevindings is in België, Frankryk, Swede, Finland, Noorweë, Duitsland, Nederland, die VSA en Kanada gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Marina ·

En so kruip al wat n krimineel en moordenaar is in Suid-Afrika weg! Dink maar aan die oud president van Soedan, die pastoor en sy vrou (Bashiri), oud president van Haiti ens. Muishond-land en “gangsters paradise” is SA se reputasie. Die Russe is volgende. Gaan ook seker ge-wine en ge-dine word?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.