Vermeende Sassa-bedrieër agter tralies

(Argieffoto)

ʼn Man is in Limpopo aangekeer nadat hy die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) glo probeer bedrieg het.

“ʼn Intelligensie-gedrewe operasie het tot die 41-jarige Munshi Muhammad se inhegtenisneming gelei nadat hy beoog het om Sassa te bedrieg,” het Sampo Maaboyi, woordvoerder van die Valke in die provinsie, gesê.

“Lede van die korrupsie-ondersoekspan het Maandag inligting van lede van Tzaneen se misdaadintelligensie-eenheid gekry dat die verdagte ʼn poskantooramptenaar in Mokwakwaila genader het en gevra het dat hy vir betaling van R10 000 hom van 250 Sassa-kaarte voorsien.”

ʼn Lokval is daarna vir Muhammad gestel.

“ʼn Operasie is dieselfde dag nog uitgevoer en Muhammad is aangekeer nadat hy die R10 000 aan die poskantoorwerker oorhandig het. Beslag is gelê op ʼn bedrag van R10 000 en 250 Sassa-kaarte.”

Muhammad het Woensdag in die Bolobedu-streekhof verskyn en bly in aanhouding. Hy sal na verwagting volgende week aansoek doen om borgtog.

In ʼn afsonderlike voorval het speurders verbonde aan die Johannesburg-Sentraal-polisiestasie agt mense vir beweerde bedrog in hegtenis geneem nadat verskeie lede van die publiek klagte ingedien het dat hulle in ʼn werk-bedriegspul ingeloop is.

Kapt. Xoli Mbele het gesê die slagoffers het glo geld betaal in ruil daarvoor dat hulle ʼn werk sou kry.

Die verdagtes, almal tussen 21 en 25 jaar oud, is Woensdag by Ilpa House in die Johannesburgse middestad aangekeer.

“Slagoffers het elk ʼn bedrag van R450 vir ʼn werksgeleentheid betaal. Hulle is van kantoor- en skoonmaakwerk verseker.”

Mbele het gesê die ondersoek duur voort en die verdagtes verskyn binnekort in die Johannesburgse landdroshof.

“Ons doen ʼn beroep op die gemeenskap om nie geld vir werksgeleenthede te betaal nie,” het Mbele gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nie Verbaas ·

ANC se lys van instansies waar daar nie korrupsie, onbevoegdheid en plundering is nie soos volg:

Dankie

JohanR ·

Lyk my baie dinge gaan soe LEKKER in daai Limpopo. Geen wonder Julius Malema en Floyd Shivambu is soe lief vir die plek nie! Lyk dit vir my of die Valke ook deesdae soe bietjie meer byt het? Nog nie naby die steek van ‘n Skerpione nie, maar begin beter en beter lyk. Nou moet die NVG, en Advocate Shamila Batohi ook net wakker word!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.