Vermeende sekspes in lokval gelei

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Slagoffer van seksuele geweld wat haar vermeende aanvaller kon oortuig dat sy hom wou ontmoet, se moed het tot die man se inhegtenisneming gelei, het die hooggeregshof in Pietermaritzburg Vrydag gehoor.

Ao Sarendra Kisdiha van Stanger in KwaZulu-Natal het getuig dat die slagoffer, wat glo deur Xolani Shozi (20) gekaap, ontvoer, beroof en seksueel aangerand is, saam met hom gewerk het om ʼn ontmoeting met Shozi te reël.

Kisdiha het tydens die ontmoeting die twee van ʼn afstand dopgehou. Hy het gesê hy was van plan om Shozi in hegtenis te neem as hy “dom genoeg” is om te dink dat die vrou hom by haar werksplek sou ontmoet.

Shozi het glo ʼn uur later opgedaag. Hy het op die agterste sitplek van ʼn motor gesit en die deur oopgemaak en die slagoffer genooi om in te klim. Sy het egter geweier. Kisdiha het tevergeefs bystand versoek. Hy het toe agterin die motor vasgery waarin Shozi gereis het. Daar was nog twee persone saam met Shozi in die motor. Kisdiha het sy vuurwapen op die bestuurder gerig.

“Die bestuurder het afgebuk en ʼn vuurwapen onder die sitplek uitgehaal. Hy het die vuurwapen toe vir Shozi aangegee en gesê hy moet skiet,” het Kisdiha getuig. Shozi het egter nie geskiet nie, en wou weghardloop.

Al drie verdagtes is met behulp van veiligheidswagte in hegtenis geneem.

Kisdiha het later ontdek die twee persone wat saam met Shozi was, was twee polisiebeamptes, Nhlanhla Mhkize (23) en Nkosinathi Mkhize (22), en die vuurwapen was ʼn standaard polisievuurwapen waarvan die reeksnommer afgevyl is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.