Vermeende sekspes se verhoor tot volgende jaar uitgestel

Inwoners van Atlantis eis vergelding buite die hof (Foto: verskaf/ANA)

ʼn Vermeende seksuele oortreder het Woensdag in die Atlantis-landdroshof in die Wes-Kaap verskyn waar sy hofsaak tot volgende jaar uitgestel is.

Die 46-jarige beskuldigde van Mamre, ʼn klein dorpie buite Atlantis, staan tereg op vier aanklagte van verkragting, uitbuiting, seksuele aanranding en dat hy ʼn kind vir kinderpornografie gebruik het.

Die man, wat vroeër ʼn junior rugbyspan afgerig en ʼn sopkombuis bestuur het, is vrygelaat op borgtog van R10 000. Hy is in Maart in hegtenis geneem toe vier persone, waaronder ʼn 16-jarige minderjarige, na vore gekom het.

ʼn Woordvoerder vir die slagoffers, wat versoek het om anoniem te bly om die slagoffers se identiteit te beskerm, het gesê die man is ʼn gerespekteerde inwoner en sy optrede kan “skokkend” voorkom, “soos iets uit ʼn fliek”.

“Hy het jong meisies aanlyn gelok, ʼn strik vir hulle gestel, en hulle uitgebuit,” het die vrou gesê. “Hy het vals Facebook-profiele bedryf en homself voorgedoen as iemand van ʼn modelagentskap, ʼn fiksheidsinstrukteur, ʼn dokter en een keer selfs ʼn lesbiër.”

Sy het gesê die beskuldigde het sy gemeenskapswerk gebruik om inligting te bekom oor sy slagoffers se swakhede en selfs met hul ouers vriende gemaak om beter insig te kry oor hul omstandighede.

“Toe hy in hegtenis geneem is, het die polisie beslag gelê op twee skootrekenaars en vier toestelle met verskillende nommers. Hy het meer as 300 pornografiese video’s en foto’s van kinders gehad.”

Die ander slagoffers is steeds te bang om na vore te kom, omdat hulle bang is dat die gemeenskap hulle sal teiken, het die vrou bygevoeg. Sy het gesê sy soek net geregtigheid vir die slagoffers, selfs vir diegene wat te bang is om iets te sê, maar sy wens dat die gemeenskap van Mamre hulle meer sou ondersteun.

Inwoners van Atlantis en die omliggende dele het tydens die hofverrigtinge buite gestaan en eis vergelding.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het bevestig die man het in die hof verskyn. “Die saak is tot 2 Februarie 2021 uitgestel en oorgeplaas na die Atlantis-streekhof. Die man is vrygelaat op borgtog van R10 000 en sy borgtog word verleng.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Persheks Adri ·

R10 000 borg sodat hy WEER sulke walglike goed kan doen? Wat gaan aan met die regstelsel? Maggies nou het ek alles gehoor en gesien

Maggies ·

Kan my oë nie glo nie! Weet die regstelsel presies hoe groot skade so ‘n persoon aanrig.
Skade wat vir die res van die geaffekteerde persone sal bybly.
Geen mens wat deur so ‘n booswig misbruik is, sê lewe sal ooit weer normaal wees nie.
So maklik om gou almal wat wel teen hom getuig te laat intimideer.
Nee wat, ek is teleurgesteld.

Persheks Adri ·

Hulle verstaan duidelik niks nie Maggies. Ek’s net so teleurgesteld in die regstelsel regtig mens kan nie meer nie

Sarel ·

Pedofiel en hy kry Borgtig van net R10000 . Wat is die belange van die kinders werd vir die hof. Mishandeling van vroue en kinders word nie ernstig opgeneem deur die SA Regstelsel nie.

Nico ·

Sarel, die krimineel kry borg, net om aan te gaan met sy verwoesting van lewens, hy moes agter tralies gebly het, die rede vir borg is dat die tronke te vol is van sulke kriminele.

Feite ·

En die “gemeenskap”veroordeel eerder die slagoffers as die Pedofiel?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.