Vermeende sosialemedia-reeksverkragter vas

(Foto: pixabay)

ʼn Vermeende reeksverkragter wat glo sosialemedianetwerke gebruik het om sy slagoffers te lok, is in Noordwes aangekeer.

Kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, het gesê lede van die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kindersbeskerming en seksuele oortredings in samewerking met hul kollegas by die eenheid vir georganiseerde misdaad, het die 30-jarige man Vrydag aangekeer.

Een van die man se slagoffers is ʼn 27-jarige vrou wat hy op Facebook bevriend het. Hulle het ook gesprekke op WhatsApp gehad en die slagoffer het ingestem om die man op 30 Mei by ʼn kruidenierswinkel in Klerksdorp te ontmoet.

“Die verdagte, wat glo voorgegee het om ʼn pastoor te wees, het die slagoffer ontmoet soos ooreengekom en het haar later na ʼn oop veld agter die tegniese hoërskool geneem,” het Myburgh gesê.

“Die slagoffer is met ʼn mes gedreig, verkrag en van haar persoonlike besittings beroof.”

In nog ʼn voorval het ʼn 29-jarige vrou van Ventersdorp ook die man op Facebook ontmoet. Hulle het ooreengekom om in November verlede jaar te ontmoet.

“Hy het die slagoffer glo ook na ʼn oop veld geneem waar hy haar met ʼn mes gedreig en haar verkrag het. Hy het dié slagoffer ook van haar persoonlike besittings beroof,” het Myburgh gesê.

Sy het gesê die ondersoek duur voort en die moontlikheid dat die verdagte met ander voorvalle verbind kan word, kan nie uitgesluit word nie.

Lt.genl. Sello Kwena, polisiehoof in Noordwes, het mense gemaan om ekstra bedag te wees wanneer hulle eerste ontmoetings met moontlike vriende reël, veral as hulle mekaar op sosialemedianetwerke ontmoet het. Mense word ook aangemoedig om mekaar eerder op openbare plekke waar daar ook ander mense is te ontmoet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

SomeOne ·

“eerder op openbare plekke “, maar hy het haar “by ʼn kruidenierswinkel” ontmoet, so waarskuwings help ook nie

johanf ·

Hoekom val mense nou nog na al die jare vir slenters op Sosiale Media, na horde waarskuwings….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.