Vermeende ‘sosialemedia’-verkragter, moordenaar vas

(Foto: pixabay)

ʼn 29-jarige man is in hegtenis geneem in verband met die verkragting van twee jong vroue, tussen 15 en 22 jaar oud. Hy het hulle onderskeidelik op 21 en 26 Junie in Vezubuhle, digby Kwamhlanga in Mpumalanga, verkrag nadat hy hulle glo op sosialemediaplatforms na sy huis gelok het.

Tydens die ondersoek van die verkragtings is inligting ook bekom wat die man verbind met ʼn moord wat ʼn maand gelede plaasgevind het.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, sê die vermeende verkragter het op sosiale media vriendversoeke aan die slagoffers gestuur. Sodra hulle hom bevriend het, het hy onophoudelik met hulle begin gesels. Hy sou hulle dan na sy huis nooi.

Hlathi sê die verdagte het sy eerste slagoffer op sosiale media gevra om hom na ʼn geleentheid te vergesel. Toe sy by sy huis opdaag, het hy haar beleefd verwelkom en na sy kamer toe genooi. Daar het hy sy vuurwapen uitgeruk en haar beveel om haar klere uit te trek. Hy het haar toe aangerand en verkrag.

Die verdagte het presies dieselfde met die tweede slagoffer gedoen.

Die polisie ondersoek twee sake van verkragting wat aanhangig gemaak is.

Hlathi sê tydens die polisie se ondersoek is inligting bekom dat hulle met ʼn reeksverkragter te doen het. Hy het sy slagoffers op sosialemediaplatforms gelok. Hulle het die man by sy huis in Vezubuhle in Mpumalanga in hegtenis geneem.

Tydens die ondersoek het die polisie vasgestel die man is verantwoordelik vir ʼn moord wat in Mei plaasgevind het.

Die polisie het in Mei op die liggaam van die 28-jarige Nonhlanhla Happy Maseko onder ʼn brug op die R573-pad by Vezubuhle afgekom. Die verdagte is sedert die liggaam in Mei ontdek is nog nie vasgetrek nie. Tydens die verkragtingsaak het leidrade aan die lig gekom wat die vermeende verkragter as die moordenaar van Maseko uitwys.

Die verdagte het reeds in die Kwamhlanga-landdroshof in Mpumalanga verskyn. Sy saak is tot 13 Julie uitgestel wanneer hy formeel om borgtog kan aansoek doen.

Lt.genl. Mondli Zuma, die provinsiale polisiekommissaris van Mpumalanga, het lede van die polisie geloof vir hul goeie werk.

“Ek is baie tevrede met die polisie se werk om die vermeende verkragter en moordenaar op te spoor. Hierdie inhegtenisneming toon dat die polisie baie ernstig is oor die hantering van geslagsgebaseerde geweld en dat ons stelsel gereed is om te verseker dat geregtigheid geskied vir vroue wat deur mans geviktimiseer word,” het Zuma gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Elize

Wat ek nie kan verstaan nie is die volgende:-
a) Die regering kerm heeldag en aldag oor die geweld teenoor vroue
b) Hoe kry ‘n moordenaar en verkragter dit reg om aansoek vir borg te doen en wragtig dit te kry
c) Hoe slaap hierdie regters as hulle aandadig daaraan is dat hierdie skuim weer terug op straat is

Is ek te dom om dit te verstaan of is dit algemene vrae wat daar is?

Genis

Ek stem Elize, dit maak hoegenaamd nie sin nie.. en sal my kop n blok sit, die wat nou losgelaat is/of gaan word, is van dieselfde kaliber…,

Cherokee

‘… polisie baie ernstig is oor die hantering van geslagsbasseerde geweld…’
Dit word gesê na soveel koerante berig oor polisie’manne’ wat hulself daaraan skuldig maak.