Vermeende stroper by Nature’s Valley vasgetrek

(Foto: SANParke)

ʼn Vermeende perlemoenstroper is by Nature’s Valley naby Plettenbergbaai in die Wes-Kaap in hegtenis geneem terwyl sy drie makkers daarin kon slaag om te ontsnap.

Volgens SANParke het veldwagters in die Tsitsikamma-gedeelte van die Tuinroete Nasionale Park gepatrolleer en vermoed stropery vind moontlik by Grootbank aan die westekant van Nature’s Valley plaas.

“Vier duikers het uit die see gekom en begin hardloop toe hulle die veldwagters opgemerk het,” het JP Louw, woordvoerder van SANParke, gesê. “Veldwagters het dadelik bystand ontbied wat daartoe gelei het dat een verdagte ná ’n jaagtog aangekeer is. Ongelukkig het die ander drie verdagtes in die ruie bosgebied ingehardloop, wat dit moeilik gemaak het om hulle agterna te sit.”

Die verdagte wat in hegtenis geneem is, is ’n 44-jarige man van Jeffreysbaai. Minstens 34 kg perlemoen met ’n geraamde straatwaarde van R62 333 is in sy besit gevind.

SANParke het lede van die publiek aangemoedig om enige verdagte aktiwiteite wat wildlewe en beskermde gebiede kan bedreig, aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.