Vermeende stroper vas ná gemeenskap help

’n Vermeende renosterstroper is Sondagmiddag in Thabazimbi in hegtenis geneem nadat sowat 50 mense op die gebied toegesak het om na hom te help soek.

Die man sal Dinsdag in die landdroshof op Thabazimbi verskyn.

Sakkie Louwrens van Bosveld Misdaadondersoeke sê hulle het Sondag inligting ontvang oor ’n beplande renosterstropery in die omgewing.

Die minister van omgewing, bosbou en visserye, Barbara Creecy. (Foto: Brendan Magaar/ANA)

Louwrens en sy span is omstreeks 15:00 saam met veldwagters van die nabygeleë Marakele Animal Sanctuary en lede van SANParke se eenheid vir bedreigde spesies van Limpopo na die toneel. Inligting is opgevolg en uiteindelik het die aanvanklike groep van sowat 15 mense gegroei tot sowat 50 nadat boere en ander rolspelers by die groep aangesluit het.

“Die verdagtes se Volkswagen Polo is opgemerk en ’n jaagtog het ontstaan, waartydens die verdagte se voertuig die pad byster geraak het,” sê Louwrens.

Daar is ook beslag gelê op ’n grootkaliber-geweer (.458), ammunisie, ’n knaldemper, messe en die voertuig.

Twee vermeende stropers het egter weggekom.

Luidens syfers van die departement van bosbou, visserye en omgewingsake, is 499 renosters verlede jaar in Suid-Afrika gestroop. Hiervan was 406 op staatsgrond en 93 in private besit in parke, reservate en plase. Dit is ’n toename van 51 in vergelyking met die 448 renosters wat in 2022 gestroop is.

Min. Barbara Creecy het destyds gesê die druk is weer gevoel in KwaZulu-Natal, met die Hluhluwe-iMfolozi Park wat die kwaaiste deurloop. Altesaam 307 van die totale nasionale stropingsverliese is by dié park gely.

Die Krugerwildtuin het ’n afname van 37% vanaf 2022 aangeteken, met altesaam 78 renosters wat in die jaar gestroop is. Geen renosters is in ander nasionale parke gestroop nie.

Creecy het vroeër gesê as deel van die regering se armoedeverligtingsprogram is ’n aantal mense van naburige gemeenskappe in diens geneem om die westelike grensheining van die Krugerwildtuin te patrolleer en stukkende heinings, verdagte spore en mense wat die park binnekom, aan te meld.

Hulle meld ook aan wanneer enige diere uit die park ontsnap.

Foto ter illustrasie. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Creecy het die Valke geloof vir hul werk in verskeie streeks en transnasionale verbintenisse om die regering se geïntegreerde benadering tot die bekamping van wildhandel te verbeter. “Verantwoordelike vennootskappe tussen die openbare en private sektore en die finansiële en vervoersektore bly van kritieke belang in die bekamping van internasionale wildhandel. Dié benadering is nie eksklusief tot Suid-Afrika nie en word op streeksvlak en transnasionaal gevolg.”

Daar word ook saam met sogenaamde transito- en eindgebruikerlande in Suidoos-Asië, veral China, Singapoer, Katar, Maleisië en Viëtnam, gewerk om die probleem te stuit.

Wat die vervolging van renosterstropery betref, is uitspraak gelewer is 36 sake, waarvan 35 gelei het tot skuldigbevindings van 45 stropers en horinghandelaars. Die skuldigbevindingsyfer was 97%.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Co ·

Nou stel Barbara Creecy stropers aan om die wild teen stropers te beskerm! Ek kan dit nie verstaan nie, Net so goed daar word anc’ers aangestel om die toegang by my woon kompleks te hanteer en my te beskerm teen die anc, of ‘n anc karwag in ‘n parkeerarea wat my kar wil beskerm teen die anc’ers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.