Vermeende stropery-baasbrein ná jaagtog vas

(Foto: Verskaf)

ʼn 59-jarige man wat vermoedelik die baasbrein agter ʼn renosterstropery-sindikaat in die omgewing van Mpumalanga en Limpopo is, is Saterdag in hegtenis geneem.

Kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, sê die polisie het inligting oor twee verdagtes in ʼn grys Toyota-bakkie ontvang wat vermoedelik by renosterstropery in Lydenburg, Mpumalanga, betrokke is.

“Die voertuig is op die R531-pad by die Klaserie One Stop Station op Kampersrus opgemerk waarna ʼn padblokkade in die omgewing opgestel is in ʼn poging om die voertuig voor te keer.

“Toe die verdagtes die padblokkade nader, het hulle egter onverwags ʼn U-draai gemaak en in dieselfde rigting teruggery,” sê Ledwaba.

Polisiebeamptes het die voertuig sowat ses kilometer ver gevolg toe die verdagtes skielik in die middel van die pad stilgehou en een van hulle in die bosse laat spaander het. Hy het ʼn swart sak laat val.

Die voertuig het verder gejaag tot dit by Kampersrus teen ʼn ander voertuig gebots het. Die bakkie is deursoek en die polisie het geld wat by die agtersitplek versteek was, gevind. Die bestuurder is op die toneel in hegtenis geneem.

Die polisie se voorlopige ondersoek toon dat die verdagte met ʼn reeks voorvalle wat vanjaar in Mpumalanga aangemeld is, verbind word. Dit sluit in klagte van moord, rampokkery en renosterstropery.

Die polisie het ook die swart sak wat vroeër laat val is, herwin. Daarin was patrone, ʼn knaldemper en drie messe wat vermoedelik in die uitvoering van die misdaad gebruik is.

Lt.genl. Thembi Hadebe, polisiehoof in die provinsie, het die gesamentlike intelligensie-operasie deur die Hoedspruit-polisie, die provinsiale veediefstaleenheid en plaaslike plaaswag- en polisiëringsforum geloof.

“Hierdie samewerkingspoging tussen ons lede en ander veiligheidstrukture het vrugte afgewerp om die veiligheid van ons gemeenskap te verseker.”

Die verdagte sal na verwagting Maandag in die rondgaande hof op Hoedspruit verskyn.

ʼn Soektog na die ander verdagte duur voort en enigiemand met inligting word versoek om die ondersoekbeampte, kapt. Pieter Meyer, by 066 016 4156 of Stop Misdaad by 08600 10111 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Witwax ·

Dit lyk my die polisie weet nie hoe om n padblokkade te hou nie . Waar was die stopper groepe?
Hulle moet daar wees vir die wat om draai en weg jaag.

asjassie1 ·

Vra ek ook? Stopper groep is basiese beginsel en deel van n blokkade. Leer dit nie meer in die nuwe SA nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.