Vermeende transitorower doodgeskiet

Argieffoto: Kent Williamson

ʼn Vermeende rower is Vrydagmiddag in Florida, in die weste van Gauteng, doodgeskiet en beamptes het beslag gelê op vuurwapens ná ʼn transitorooftog.

“ʼn Veiligheidswag het kort ná 12:00 geld by ʼn vulstasie in Florida gaan haal toe hy skielik deur twee gewapende mans oorval is,” het brig. Vishnu Naidoo, woordvoerder van die polisie, in ʼn verklaring gesê. “Hy is van ʼn onbekende bedrag kontant en sy vuurwapen beroof.”

Die rowers het een van die bande van die transitovoertuig geskiet voor hulle weggery het. Minstens vier rowers het in ʼn ligte afleweringsvoertuig van die toneel gevlug. Inligting oor die wegkomvoertuig is dadelik oor amptelike kanale versprei.

“Metropolisiebeamptes het later die verdagte voertuig in Dobsonville opgemerk. Dit het tot ʼn hoëspoedjaagtog en ʼn skietery gelei,” het Naidoo verduidelik. “Plaaslike polisiebeamptes was ook op patrollie in die gebied en het by die metropolisie aangesluit.”

Een verdagte is doodgeskiet. “Daar is beslag gelê op ʼn AK47 en drie pistole. Drie verdagtes het gevlug, maar die ondersoek duur voort om hulle aan te keer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Neutraal ·

Dankie aan daardie polisielede wat hul werk met n passie dien ten spyte van die gevare wat daarin skuil. Ek het respek vir julle.

Christo ·

Sterkte aan die SAPD lede van die Florida polisiestasie. As gevolg van swak bestuur van die stasiebevelvoerder en interne korrupsie vind eerlike lede dit onmoontlik om hulle pligte uit te voer. Danksy die Johannesburgse Metro Polisie is daar een transitorower minder op straat.

Lerato ·

Ek kan vir my lewe nie verstaan waarom hierdie geldwaens nie deur nog n kar vol gewapende personeel gevolg word nie.

Ons praat van miljoene wat so vervoer word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.