Vermeende verkragter vry ná hofsaak sloer

hof-hamer

(Argieffoto)

Deur Tania Broughton, GroundUp

’n Man wat tronk toe gestuur is vir verkragting is verlede week deur twee KwaZulu-Natalse regters vrygespreek nadat die saak sewe jaar lank gesloer het. Gedurende dié tyd het hy 46 keer in die hof verskyn.

Die man is voorheen op twee aanklagte van die verkragting van ’n 11-jarige meisie skuldig bevind en 15 jaar tronkstraf opgelê. Hy het intussen teen die uitspraak appelleer en die regters het die skuldigbevinding na afloop van die appèl omgekeer. Hy was 17 jaar oud toe die oortreding begaan is en is die volgende jaar (2013) in hegtenis geneem.

Regters Rishi Seegobin en Rashid Vahed sê dit is verstommend dat ’n relatief ongekompliseerde saak wat in ’n paar weke afgehandel moes word, vir jare voortgesleep het.

Volgens hulle is die voorsittende landdros en die staatsaanklaer vir die toedrag van sake verantwoordelik en verdien hulle om ten sterkste berispe te word aangesien hulle die beskuldigde se reg tot ’n regverdige verhoor sowel as die klaer se regte verontagsaam het.

Die man se appèlsaak is in April vanjaar aangehoor, waarna Seegobin en Rashid beveel het dat hy onmiddellik uit tronk vrygelaat moet word.

“Ingevolge die Grondwet het elke beskuldigde die reg tot ’n regverdige verhoor. Dít sluit in dat die verhoor binne ’n redelike tyd sonder onnodige uitstel afgesluit word.

“Die geskiedenis van die saak dui daarop dat die saak onder meer weens sistemiese probleme, asook die onbeskikbaarheid van die voorsittende landdros en die afwesigheid van getuies, gesloer het.”

Dít terwyl die beskuldige tydens elke hofverskyning teenwoordig was.

Die regters het bevind dat slegs agt van die 46 verskynings aan die werklike verhoor afgestaan is.

Boonop het die verhoor eers in 2015, bykans drie jaar ná die beskuldigde se inhegtenisneming, met die getuienis van die klaer begin.

Die saak het hierna vir twee en ’n half jaar stilgestaan en is eers in Julie 2017 hervat.

Die aanklaer het toe besluit dat die klaer haar getuienis van vooraf moet lewer.

“Die gevolg hiervan was dat haar getuienis in 2017 van haar getuienis in 2015 verskil het. Die twee belangrikste verskille was die aantal kere wat sy verkrag is en wat sy ten tyde van die verkragting aangehad het.

“Sy het volgehou dat sy die beskuldigde aan sy stem identifiseer het, aangesien die kamer donker was en sy hom nooit gesien het nie. Die verkragtings het glo op ’n klein bedjie plaasgevind wat die slagoffer met twee ander kinders gedeel het. Die waarskynlikheid daarvan is egter nooit bepaal nie.”

Die regters het ook bevind dat die hof sowel as die staat ’n verpligting gehad het om te verseker dat die saak so gou as moontlik afgehandel word, aangesien die aanklagte van ’n seksuele aard was en ’n minderjarige slagoffer én beskuldigde betrokke was.

“Die versuim hiervan word voor die deur van die landdros en die vervolging gelê. Daar was growwe vooroordeel teenoor die beskuldigde sowel as die jong klaer.

“Dit was nie ’n ingewikkelde saak nie. Die staat het vier getuies geroep en die beskuldigde het in sy eie verdediging getuig. Dit kon binne ’n week of twee afgehandel gewees het.”

Die regters het ook gesê dat verkragting en ander seksuele oortredings ’n endemie geword het en dat daar nie vertroue in ’n regstelsel is wat ’n bespotting van beskuldigdes sowel as slagoffers se regte maak nie.

Hierdie berig het oorspronklik op Groundup verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Niklaas ·

Ek kan net my kop skud, in ongeloof. Dink net hoe moet daardie arme slagoffers vandag voel

Nie Verbaas ·

En wat voel al die beamptes wat verantwoordelik is hiervoor? Vere! Niks sal met hulle gebeur nie. Ek is verstom.

ES ·

Ongelukkig is die hof se hande afgekap – swak speurwerk en swak getuienis. Die hof kan nie ‘n beslissing maak op hoorsê, sonder die nodige bewyse nie want daar is reels wat gevolg moet word.

Skokkend dat dit so lank vat.

Anel ·

So wat hulle eintlik sê is dat die beskuldigde meer regte as die slagoffer het. Siek man, siek!!!

Maggies ·

Dit is presies waarom die meeste slagoffers van kinder molestering en verkragting nie die saak rapporteer nie. Mense het geen vertroue meer in die land se regstelsel nie.

SomeOne ·

en so gaan nog baie sake uitgegooi word, of die ondersoek beampte/s doen nie hul werk reg nie of die howe bly dit uitstel, van uitstel kom afstel

pestilensie ·

Die moontlikheid is dat die beskuldige onskuldig was , weet nie of hy in aanhouding was nie , maar indien ? Wat dan

Di ·

Dis niks nuuts in die nuwe SA. Als gaan ten gronde teen die spoed van lig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.