Vermindering van provinsies ‘sal onwettig wees’

Die Vryemark Stigting het Donderdag gewaarsku enige poging om die getal provinsies in die land van nege tot ses te verminder, soos deur die ANC voorgestel, sal teen die wet wees en afbreuk doen aan die demokrasie.

Die ANC het vir die eerste keer in 2007 voorgestel dat die getal provinsies verminder moet word. Tydens die party se beleidskonferensie verlede maand is die voorneme om die provinsies te verminder weereens herhaal. Daar is ʼn beroep gedoen dat ʼn presidensiële kommissie op die been gebring moet word om die nodige werk uit te voer voor die ANC se verkiesingskonferensie in Desember.

Die Vryemark Stigting het in reaksie hierop gesê “gelukkig maak die Grondwet en die oppergesag van die gereg dit nie so maklik om die hefbome van mag te misbruik nie”.

Martin van Staden, regsnavorser by die Vryemark Stigting, het gesê: “Dit sal onregverdig teenoor die ANC wees om te impliseer dat hierdie plan eenvoudig korrupsie en goedkoop afbakeningsknoeitaktiek is om te verhoed dat hulle Gauteng in 2019 verloor, aangesien die beleid reeds in 2007 aanvaar is voordat die Wes-Kaap in die DA se hande beland het.

“Maar die ANC, die oudste en sekerlik die mees ervare demokratiese politieke party op die Afrika-kontinent, moet tog sekerlik bewus wees daarvan dat om die getal provinsies te verminder en dus die amptelike opposisie van sy demokratiese mandaat in die Wes-Kaap te beroof, beskou sal word as ʼn openlike aanval op ons grondwetlike demokrasie,” het Van Staden gesê.

Die Vryemark Stigting het gesê in die lig van die verkiesings- en politieke onsekerheid in Suid-Afrika, sal dit roekeloos wees om met die samestelling van die provinsies of munisipaliteite te peuter. “Hierdie optrede nooi onsekerheid en onvoorspelbaarheid uit en is dus waarskynlik ʼn oortreding van die wet en dus die Grondwet.”

Van Staden het daarop gewys indien die regering die getal provinsies wil verminder, sal die Grondwet aangepas moet word. “Artikel 74(3)(ii) stel dit dat tweederdes van die Nasionale Vergadering en ses provinsies in die Nasionale Raad van Provinsies veranderings aan provinsiale grense, magte, funksies of instansies moet goedkeur. Artikel 74(8) stel dit dat die betrokke provinsiale wetgewers ook sulke veranderinge moet goedkeur.”

Hy het ook gesê indien die ANC werklik besorg is oor die konsentrasie van hulpbronne op provinsiale vlak terwyl dienslewering gewoonlik op plaaslike regeringsvlak moet gebeur, sal dit meer gepaste optrede wees om doeltreffendheid te verbeter.

“Die werklik lastige ‘middelman’ in hierdie verhouding is nie die provinsies nie, maar die nasionale regering wat die verste verwyder is van die mense. Om die magte in ʼn paar plekke te sentraliseer, selfs op nasionale vlak, sal niks doen behalwe om afbreuk te doen aan die regte demokrasie nie.

“Dit maak die aanname dat alle Suid-Afrikaners dieselfde is, in dieselfde omstandighede leef en dus op presies dieselfde wyse regeer moet word. Hoewel die wet ook gelyke toepassing van die gereg vereis, beteken dit nie dat wetgewing oral dieselfde moet wees nie.

“Watter wette die beste werk in watter omstandighede kan slegs bepaal word as Suid-Afrika die samewerkende federale model soos deur die Grondwet beoog, omhels. Dit sal inderdaad radikale transformasie wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Piet Pompies ·

Ek wonder hoekom is die Provinsies jare terug meer gemaak, nou weer minder maak. Dalk dink die regering as daar minder Provinsies is dat hulle minder geld gaan spandeer, ha ha.. Matriek 2017 grappie.. ag bedoel Matriek 2017 vraag

Cherokee ·

Dit is die eerste waaraan ek ook gedink het; die feit dat hùlle net na hulle die regering oorgeneem het, die provinsies vermeerder het en grenslyne verander het. Nou wil hulle dit weer rondskuif ter wille van magsbeheer.

J.C.S ·

Baie duidelik weet agbare Martin v Staden nie watter standpunt om in te neem nie aangesien hy homself gruwelik weerspreek.

NieEkNie ·

Is dit regtig Van Staden wat homself weerspreek, of die verslaggewer wat dit nie korrek oorgedra het nie?

Alida ·

Seker om meer stemme te kry! Dit gaan miljarde kos en weereens het hulle nie gedink nie. Ai

Gerda ·

Nee ….Dit is n “TRUUK”van die anc om dan die DA se Wen Wyke te STEEL…!!!!

Johanna Botha ·

Sien deur dit …hulle wil die anc magsbasis uitbou …tog SO voorspelbaar !

??? ·

Kyk liewer na die logge groot munisipaliteite nadat kleineres bymekaar gegooi is in ‘n onbeheerbare spul. Hiermee saam het padskrapers, grassnyers, trekkers ens. wat elke dorp gehad het soos mis voor die son verdwyn. Nou is daar ‘n ‘hoofdorp’ waarvandaan alle ander omliggende dorpe in die munisipale gebied beheer word wat net chaos is. Hier dink ek aan die Secunda-gebied met ELF dorpe!!

Johann Marx ·

Die A&C MOES die provinsies vergroot in 1994 sodat AL die aktiviste ‘n posisie kon kry wat hulle finansieel vergoeg het vir hulle bydrae om die ou Suid Afrika af te breek. Na 20 jaar is AL die geld nou op, werkskepping is toe nie so maklik nie, beleggers vlug want hulle kan sien wat aan die kom is, en niks is onderhou nie, wat nog te sê uitgebrei. Nou is die monster besig om homself te verteer, want daar is niks meer oor nie….en om mag te behou ten koste van alles en almal, moet alles nou weer “verminder” word in ‘n poging om die volgende verkiesing te red. Eerstens lyk dit dan asof die A&C met “iets besig” is…..en kan hulle al hulle kiesers nog ‘n paar beloftes gee….en tweedens kan hulle nou grense verskuif om die “verligte” provinsies (waar dit finansieel goed gaan) weer in te palm en hulle ook droog te suig. Ek lees Eskom se totale munisipale skuld (landwyd) is so by die Ses Miljard Rand…..maar NET Soweto alleen skuld NEGE Miljard Rand…..Die bodem van die bodemlose put is nou besig om erg sigbaar te raak…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.