IMEI-nommer kan help om vermiste persone te vind

selfoon-pexels

‘n Selfoon se IMEI-nommer kan onder sekere omstandighede help om ‘n vermiste persoon op te spoor. Foto: Pexels.com

Kan ʼn mens ʼn vermiste persoon deur hul selfoon se IMEI-nommer opspoor, selfs al is die foon afgeskakel?

Fikile Mbalula, minister van polisie, het onlangs op Twitter gesê die soektog na ʼn vermiste persoon kan bespoedig word as geliefdes dié persoon se IMEI-nommer aan die polisie kan verskaf, maar wat is die nommer en kan dit gebruik word om mense op te spoor? Ina Skosana en Gopolang Makou van Africa Check het ondersoek ingestel.

Mbalula het onlangs sosiale media gebruik om raad te verskaf oor hoe vermiste persone vinniger en makliker opgespoor kan word. “Help ons om jou te vind as die ergste sou gebeur,” het hy getwiet. “Jou IMEI-nommer kan van groot nut wees.”

Die minister het ʼn foto aan sy twiet geheg wat die publiek aanmoedig om die nommer te kry. Hy het aangevoer die nommer kan help om te bepaal waar die eienaar van die foon hom- of haarself bevind, “selfs al is die simkaart van die selfoon verwyder”.

“Gee jou IMEI-nommer aan jou familie en vriende. So kan hulle die nommer aan die polisie verskaf indien jy vermis word, jou selfoon afgeskakel is of onbeantwoord bly. Die polisie kan dit gebruik om jou deur jou bewegings op te spoor,” het Mbalula verder geskryf.

Twee lesers het Africa Check gevra om vas te stel of dit regtig kan werk.

Wat is ʼn IMEI-nommer?

Die Internasionale Mobiele Toerusting Identiteit, of IMEI-nommer, is in wese ʼn reeksnommer vir ʼn selfoon, verduidelik Arthur Goldstuck, besturende direkteur van die tegnologie-navorsingsmaatskappy World Wide Worx.

“Elke foon het ʼn unieke IMEI-nommer en soos met ʼn ID-nommer kan die foon aan ʼn reeks inligting, insluitende vervaardiger en modelnommer, gekoppel word,” het Goldstuck bygevoeg.

Soos Mbalula getwiet het, kan die nommer verkry word deur *#06# op ʼn selfoon te skakel, het dr. Dustin van der Haar, adjunkhoof van die akademie vir rekenaarwetenskap en sagteware-ingenieurswese aan die Universiteit van Johannesburg, gesê.

Hofbevel vereis

Beide Goldstuck en Van der Haar het bevestig dat die IMEI-nommer gebruik kan word om die ligging van ʼn selfoon of mobiele toestel te bepaal.

“Die opsporing kan slegs deur die diensverskaffer wat aan die selfoon gekoppel is, uitgevoer word. Dit kan gewoonlik net gebeur as daar ʼn hofbevel is wat van die diensverskaffer vereis om die spesifieke selfoon op te spoor,” het Goldstuck gesê.

Goldstuck het bevestig dit is gewoonlik die laaste roete wat in uitsonderlike gevalle gevolg word.

Van der Haar het ook bevestig dat die nodige regsdokumentasie vereis word voordat ʼn selfoon so opgespoor kan word, maar het gesê die wet op die onderskepping van kommunikasie en die wet op die voorsiening van kommunikasieverwante inligting (Rica) maak voorsiening dat dit wel gedoen kan word.

Die wet laat die lang arm van die gereg toe om “om te sien watter nuwe simkaarte word in ʼn gesteelde toestel geplaas, en die besonderhede van die simkaarte se eienaar kan ook van die Rica-databasis getrek word om die ondersoek te help,” het Van der Haar gesê.

ʼn Soort spoorsnyer

Brig. Vish Naidoo, woordvoerder van die polisie se operasionele dienste, wou nie bevestig of die polisie die IMEI-nommer in ondersoeke kan of mag gebruik nie. “Ons kan ongelukkig nie polisieprosedures in die openbare domein bespreek nie.”

Twee ander polisiebeamptes het aan Africa Check bevestig dat die IMEI-nommer wel gebruik word om vermiste persone op te spoor.

“Die IMEI-nommer werk byna soos ʼn spoorsnyer en dit is deel van die metodes wat ons as polisie gebruik om vermiste persone te vind,” het Vuyo Mhaga, ʼn polisiewoordvoerder, gesê.

Kol. Fanie van Deventer van die buro vir vermiste persone het ook bevestig dat die IMEI-nommer ʼn manier is waarop die buro mense opspoor.

IMEI-nommer kan net gebruik word as jou foon aangeskakel is

“Die foon kan net opgespoor word as dit aan jou netwerk verbind is,” het Goldstuck gesê. “As dit afgeskakel is, kan dit nie opgespoor word nie, tensy daar addisionele naspeuringstoestelle met hul eie kragtoevoer in jou foon geïnstalleer is. Dit is egter hoogs onwaarskynlik omdat dit sou beteken iemand moes direkte toegang tot jou foon gehad het om die bykomende toestelle te installeer.”

Alhoewel ʼn selfoon aangeskakel moet wees om die IMEI-nommer te gebruik om ʼn persoon op te spoor, sal die soektog nie beïnvloed word indien die simkaarte geruil word nie, het Goldstuck en Van der Haar bevestig.

“Die IMEI-nommer word nie deur die simkaart beïnvloed nie; maak nie saak hoeveel keer die kaart geruil word nie, die selfoon kan steeds opgespoor word.

“Die polisie sal egter ʼn hofbevel moet bekom om die spesifieke diensverskaffer te verplig om die selfoon deur die nommer op te spoor en die sukses van so ʼn soektog sal grootliks afhang of die selfoongebruiker steeds dieselfde diensverskaffer gebruik en of die foon steeds in dieselfde geografiese ligging gebruik word. Die IMEI-nommer moet ook nie verander het nie.”

Die nommer kan gebruik word

Africa Check se navorsers het bevind dat die minister van polisie se aansprake dat die IMEI-nommer wetstoepassers kan help om ʼn vermiste persoon op te spoor meestal korrek is.

Tegnologiekenners meen dit ís moontlik, want die 15-syfer IMEI-nommer is jou selfoon se eie unieke identiteitsnommer. Dit kan help om te bepaal waar ʼn vermiste persoon hom- of haarself bevind, selfs al is die simkaart omgeruil, maar dit vereis ʼn hofbevel om ʼn persoon op dié wyse op te spoor.

Die selfoon kan egter nie deur ʼn IMEI-nommer opgespoor word as dit afgeskakel is nie, en dit strook nie met die inligting wat Mbalula getwiet het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Jerome,
Dankie vir jou kommentaar en vir jou valkoog! Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Esté nms. Maroela Media

christa Nagel ·

om jou IMEI nommer uit te vind … skakel op jou cell foon x#06# Jy kan dit ook ageter onder die battery kry.

Thersia ·

Hoekom moet ‘n hofbevel eers verkry word?. As ek dit self kan doen – soveel beter. Hoekom word dit nie ook gedoen met gesteelde fone nie??. Indien dit ‘n maklike proses is, sal die wetters wat fone steel mos 2 keer dink voordat hulle jou goed vat???

Anoniem ·

Mnr. Mbalula het so ‘n bietjie die kat aan die stert beet. ;-) Laat die selfoon netwerke/howe maar daardie tipe sporing hanteer en los maar die mense se IMEI nommertjies uit, hoor!

Ou Gaafste ·

Daarsy nou ou Mbaloelie!

Nou kan jy die miljoene gesteelde selfone begin terugkry. Jy weet nou hoe!!

ChristienH ·

Net jammer die IMEI nr kan verander word sommer maklik deur die baardman by die selfoonwinkel op die hoek. Die internet het baie inligting daaroor. Dan is die gesirkuleerde en geblokte IMEI nr van n gesteelde foon nutteloos.

Bia ·

Dis vreemd nou vir my hkm kan hulle nie net dan ons gesteelde fone ook so opspoor nie ????

anton ·

Want dit sal beteken hulle moet werk.!!!
Wie is nou lus vir werk? Hulle gee nie eers aandag aan meeste ernstige misdade soos moorde en plaas aanvalle nie, wat laat jou dink hulle sal jou gesteelde foon probeer opspoor!!!

anton ·

Al is jou foon afgeskakel, kan hulle dit steeds ”Trace”
Net as die battery uitgehaal is, kan dit nie opgespoor word nie.
Met huidige tegnologie kan selfs jou gespekke afgeluister word deur jou foon al praat jy nie eers op dit nie.(Slimfone natuurlik) Dit dien dan soos n mikrofoon.
Moral of the story is, moenie dink jy het privaatheid as jy n foon het nie veral n slimfoon.
BIG DADDY kan van alles weet!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.