Vermiste 12-jarige: Ontvoering óók ondersoek; verdagte glo in Bloem

marcel johannes de beerDie Newcastle-polisie in KwaZulu-Natal ondersoek nou ook ʼn saak van ontvoering nadat ʼn 12-jarige seun en ʼn man Sondag verdwyn het toe hulle glo vullis weggery het.

Kapt. Flip Claassen, ʼn polisiewoordvoerder, het Dinsdag aan Maroela Media gesê die bykomende klagte is aanhangig gemaak nadat die polisie aanvanklik slegs ʼn vermistepersoon-saak ondersoek het.

Maroela Media het Maandag berig Marcel Blandin De Chalain, is Sondag om 16:00 vir die laaste keer saam met Johannes Renier de Beer (23) gesien. Marcel se ma, Adriana, het Johannes Donderdag verblyf aangebied, aangesien hy haweloos was en sy hom glo wou help. De Beer en Marcel het glo goed oor die weg gekom en die twee het gou bevriend geraak.

Die Blandin De Chalain-gesin bedryf ʼn skrootwerf vanuit hul huis in Newcastle en het Sondag die erf skoongemaak. De Beer het aangebied om die gemors weg te ry en Marcel het glo uit eie wil saamgery om te help. De Beer het ʼn bakkie, wat glo aan ʼn familielid van die gesin behoort, gebruik om die vullis mee weg te ry. Adriana het onraad vermoed toe die twee ná twee ure nog nie weer teruggekeer het nie.

Claassen het gesê die bakkie met Marcel en De Beer is vanoggend [Dinsdagoggend] by die Mimosa-winkelsentrum in Bloemfontein gesien. “Ons het ʼn sterk vermoede dat hulle tans in Bloemfontein is,” het Claassen gesê. “Die verdagte het Sondag ʼn spul gereedskap in Ladysmith verkoop in ʼn poging om geld te kry om diesel in te gooi. Hy het gister glo twee rylopers tussen Bethlehem en Bloemfontein opgelaai, en vanoggend by die winkelsentrum afgelaai, en met die rylopers se bagasie weggery. Ons vermoed hy gaan die bagasie verkoop om geld vir diesel te kry.”

Dessie Rechner, ‘n stigter en direkteur van Pink Ladies wat hom daarop toespits om vermiste persone op te spoor, het aan Maroela Media gesê die kind se ouers, asook De Beer se pa, Hans, is baie getraumatiseerd oor wat gebeur het. “Die verdagte se pa is baie ontsteld, maar wil hê dat die gereg sy gang moet gaan,” het Rechner gesê. “Die ma het die man ingeneem omdat hy betroubaar gelyk het, en sy graag wou help.” Rechner doen ʼn beroep op die publiek om nie oor die voorval te spekuleer nie. “Die feit is dat ʼn minderjarige kind vermis word. Ons eerste prioriteit is nou om die kind op te spoor, en dan sal die voorval verder ondersoek word.”

Volgens ʼn betroubare polisiebron, wat anoniem wil bly, het De Beer glo ʼn kriminele rekord en het hy al voorheen ʼn voertuig gesteel en dwelms misbruik.

Rechner het die publiek versoek om advertensies met inligting oor die twee op sosiale media te versprei, met die hoop dat iemand hulle sal herken. Sy het inwoners van die Vrystaat, veral in die Bloemfontein-omgewing, en mense van die Oos-Kaap versoek om op die uitkyk te wees.

Marcel het blou oë, donker hare, is skraal gebou en is 1.2 meter lank. Mense wat De Beer, Marcel of die bakkie, ʼn wit enkelkajuit Ford Ranger met die registrasienommer NN44495 sien, kan Claassen by 079 500 0453 of The Pink Ladies by 072 214 7439 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Anon ·

Dis hoekom ons nie meer mense vertrou nie. Ek is jammer maak nie saak wat se kleur hy is nie maar ek vertrou niemand wat haweloos lyk nie. Hoop regtig hulle vind die kind, sterkte aan die ouers.

Hettie ·

Ek vra jou met trane in my oë. Hoe laat jy jou kind saam ‘n “hawelose” wat jy 3 dae tevore blyplek gegee het ry? En jy ken die man van geen kant af nie.
Ons weet almal in vandag se lewe kan jy niemand vertrou nie maak nie saak wat sy velkleur is nie. Jammer om dit te sê maar die ouers was baie onverskillig gewees.

Marietjie ·

En dis die rede hoekom ek seker my Christelike plig seker versuim, maar ‘n mens kan niemand meer vertrou nie. Daarom verkies ek om my geld en energie aan hawelose diere te gee. Ten minste mens kry nie stank vir dank nie.

Ru Scholtz ·

Is daar enige identifiseerende merke ens op bakkie (stickers, duik/krap merke ens)? Hy sal dalk die nommerplate kan verander, maar sal sukkel om n duik merk te steek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.