Vermiste baba gevind; man vas

Die babaseuntjie wat vermis was. Foto: Verskaf deur SAPD

ʼn Drie maande oue baba wat vermis geraak het nadat hy vermoedelik ontvoer is terwyl sy ma geslaap het, is Donderdag in ʼn huis in Lamontville, suid van Durban, gevind.

Lt.kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het gesê die baba se gesondheid was nie goed nie en hy is in ʼn hospitaal opgeneem.

Die baba het 2 Junie in Hibberdene vermis geraak. Volgens Zwane het die ma met haar seuntjie langs haar geslaap, maar toe sy wakker word, was die kind skoonveld.

Onderwyl die ma geslaap het, het vriende van die gesin, ʼn man en ʼn vrou, by die huis gekuier. Die polisie was daarna op soek na die man omdat hulle gemeen het hy kan hulle in hul soektog na die baba bystaan.

Zwane het gesê nadat die baba gevind is, het die polisie inligting opgevolg en ʼn 21-jarige man in die V-gedeelte van Umlazi in hegtenis geneem. “Hy sal vandag in die Umzumbe-landdroshof op aanklag van ontvoering verskyn,” het Zwane gesê.

Die polisie is steeds op soek na die tweede verdagte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.