Vermiste bejaarde gevind

Foto: Marshall Security

ʼn Bejaarde man van Umhlanga in KwaZulu-Natal, wat Saterdag op pad terug van ʼn kerkdiens vermis geraak het, is gevind en met sy familie herenig.

Kyle van Reenen, woordvoerder van Marshall Security, het gesê die 86-jarige man is omstreeks 17:00 Saterdag by sy huis weg op pad kerk toe. Sy familie het bekommerd geraak toe hy nie teruggekeer het nie en Marshall Security is Sondagoggend gevra om met die soektog te help.

“Die man ly aan ʼn mediese toestand wat sy vermoë aantas om te besef waar hy is,” het Van Reenen gesê. ʼn Taakspan van Marshall Security het dadelik omliggende gebiede van waar die man vermis geraak het, begin fynkam. Inligting is later ontvang dat die man se voertuig in Inanda gesien is en die soekgeselskap is na die Amatata-gebied gelei, ongeveer 50 km van waar die man laas gesien is toe hy op pad kerk toe was.

Die informele nedersetting waar die man gevind is. Foto: Marshall Security

Volgens Van Reenen het hulle die man in ʼn huis in die nabygeleë nedersetting aangetref. “Die plaaslike inwoners het die man gesien waar hy Saterdagaand op die grondpad gestap het en het vermoed iets is fout. Hulle het hom in hul huis geneem om seker te maak dat hy veilig is en iemand het die plaaslike polisie in kennis gestel,” het hy gesê.

Dit het later aan die lig gekom dat die man per ongeluk ná die kerkdiens in die verkeerde rigting gery en heeltemal verdwaal het. Sy motor het uiteindelik in die plattelandse gebied sonder brandstof gaan staan.

“Die man was gedisoriënteerd, maar gesond en in ʼn positiewe luim toe ons hom vind. ʼn Helikopter is ontbied om hom na veilligheid te neem terwyl veiligheidsbeamptes en die polisie gehelp het om brandstof in sy motor te gooi en daarmee uit die bergagtige gebied te ry. Die man en sy voertuig is later teruggeneem na sy huis toe waar sy bekommerde vrou en geliefdes vir hom gewag het.”

Van Reenen het sy dank uitgespreek teenoor die inwoners van Amatata vir hul gasvryheid en besorgdheid teenoor die man. “Dit is ʼn ware voorbeeld van die gees van ubuntu,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Ai tog...... ·

As die man dan nou aan die “mediese toestand ly” wat veroorsaak dat hy nie besef waar hy is nie, hoe kan hy dan enigsins toegelaat word om nog te kan bestuur? Dankie tog hy is veilig en ongedeerd gevind, maar sjoe…………

CHRISTA ·

Ai tog, ek wil presies dieselfde vraag vra. Ek hoopp hulle neem sy sleutels en laat hom NOOIT WEER alleen na ‘n plek gaan nie – met sy motor of per voet!!! Hulle moet hom neem of iemand vra om hom te neem!!!

Hendtik van George ·

Stem. Neem asb sy kar weg voordat hy iemand dood of beseer!

DS ·

So dankbaar hy is veilig en dankie vir almal wat hom gehelp het maar net twee vrae hoe laat die familie hom ALLEEN ry wetende hy het dié mediese toestand? En wie ry in vandag se tyd sonder ‘n selfoon rond? Te veel dinge wat nie sin maak nie. Maar weereens bly hy is veilig maak nou net seker hy bly veilig.

Carolina ·

Mooi storie. Dankie dat julle hom so mooi opgepas het. Ons is moeg om net van moorde te lees. Dit gee ons bietjie hoop.

Carla ·

Welgedaan! Goeie spanwerk tussen die gemeenskap, taakspan, polisie en ander betrokke partye! Verlig hy is gevind en ongedeërd.

Tammy ·

Jammer maar die man behoort nie meer te bestuur nie. Hy is n gevaar vir homself en ander mense om hom.

Piet Pompies ·

My pa het ook aan die mediese toestand gely voor sy afsterwe en daar is nie genoeg spasie hier om die simptome te verduidelik. So ‘n person liggaamlik sterk en normaal, verstandelik is die probleem, en moet nie dink jy gaan hom inkort en sy beweging beperk. Gewoonlik as so ‘n gebeurtenis gebeur dan sal die familie die stap neem om die person onder sorg te plaas. Sterkte aan die familie, gee baie liefde en wees ook streng.

Carol ·

Waarlik stukkie goeie nuus in hierdie deurmekaar land. Ons aanbid n lewende God. Hy het voorsien. Dankie aan die mense wat hom gevind en versorg het. Geseend is julle.

AL ·

Amen daarop. Ñ Baie mooi einde waar mense nog vir mekaar omgee.

Meer positief ·

Na die naweek se rampspoedige nuus oor ons land en al die negatiewe nuus en gebeure wat daarmee saam gaan is dit heerlik om van so iets te lees. Daar is mense wat by hul volle bewus sein is en helder oor dag ontvoer en vermoor word en hier is die persoon wat só hulpeloos is en die mense maak hul deure oop vir hom. Verwelkom hom met gasvryheid en wees hom goedgesind. Daar is nog hoop.

Ena ·

Weer n bewys daar is. Of Engelse om en tussen ons. Nie almal het die moord en roof gevoelens teen oor mekaar nie. Ek hoop van harte die gesin wat hulle oor die oomie ontferm het, word beloon. Dit kon so maklik anders gewees het. En asseblief…sort DAT daar toesig oor hom is. Hy is na alles baie oud!

Piet ·

Vir party van ons is dit normaal om menslik te wees, ander moet weer n beloning kry anders is hy kwaad vir jou.

annie ·

Kan hier nie net op EEN nuusberig kommentaar gegee word sonder om iemand sleg te sê nie?
Dis ‘n wonderlike gebeurtenis wat ook wys dat daar nog miljoene mense in ons mooi land is wat genoeg omgee vir hul naaste. Mag die oom en sy familie en die mense wat hom in hul plekkie ingeneem het oorvloedig geseën word.

Roodepoort ·

Ek stem saam. Gee eer aan die wat dit toekom asook ons Hemelse Pappa. Daar is nog mense met goeie waardes in ons land en om ons. Ons moet net ook die goeie raaksien.

MeisieMens ·

Annie, presies my gevoel. Die “waar was die ouers”, “hoe kan hy alleen ry”, hoekom was jou deur oop” kommentaar raak vir my te veel. Dis van al die oordeel van ‘n rusbank af, dat dinge so verkeerd gaan. Ek verkies om my oordeel te beperk en die MOOI raak te sien!!

henry ·

Dis ‘n tiepiese Afrikaanse ding het ek agter gekom. Alles is altyd ok gevolg met ‘n “maar” al was daar nie iets nie.

A op KDP ·

Shame…..dankie vir die mense wat hulle ontferm het Gewoonlik is n mens wat deesdae vermis word, 80% dood!!!! Bly vir die familie se part

Sputnik ·

Ek sal nooit ‘n voorval van ubuntu vergeet wat baie jare gelede aan my betoon is nie: My vrou het my een aand by Jan Smuts Lughawe kom haal. Baie naby die lughawe het die agterband gebars. Ek het onmiddellik besef dat ek kort tevore die gereedskap verwyder het om die motor te laat diens en dit daarna nie teruggesit het nie. Dit was voor die tyd van selfone. Bedremmeld het ons langs nie snelweg gestaan. Minute later het ‘n bruin man en sy vrou by ons gestop. Sy motor se gereedskap kon op ons s’n gebruik word. Toe ek hom bedank was sy antwoord: “Meneer, ek moes een wintersnag die hele nag in my motor deurbring langs dieselfde snelweg – niemand wou by my stop nie en ek het my voorgeneem om, waar ek kan, te verhoed dat dit met enigiemand anders gebeur”. Wat ‘n voorbeeld!

Riaan ·

Dis nou pragtig van die mense. As dit my pa was dan het ek vir daai mense n bees gekoop om dankie te sê.

Dirk ·

Jis vir seker. Dis darem maar ongelooflik mooi gebaar van welwillendheid van daardie gemeenskap. Wel gedaan. Hulle is ‘n voorbeeld vir alle Suid-Afrikaners.

Rentia ·

So lekker om goeie, positiewe nuus te lees. Wonderlik om te weet daar is barmhartige mense.

Ek ·

Ek ken meer sulke mense, mens moet net bereid wees om met oop oë deur die lewe te gaan dan sien jy vele engele in alle kleur om jou. Ons moet net bly bid en glo en satan sal sy houvas verloor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.