Die vermiste 82-jarige van Welkom in die Vrystaat se twee motors is na bewering op die dag dat hy as vermis aangemeld is, by ʼn vulstasie in sy straat gesien.
Beeldmateriaal van die vulstasie op die hoek van Volks- en Tempestweg in Jim Fouchépark se veiligheidskameras wys blykbaar hoe Karl Reich (82) se wit Kia Cerato en goudkleurige Honda Civic agter mekaar gery het.
Sy skoonseun, Johan Ferreira, het Vrydagoggend aan Maroela Media gesê Reich se familie wag nog op bevestiging van die polisie dat dit wel sy voertuie is wat Maandagaand by die motorhawe gesien is. Die familie het intussen by Reich se bank gehoor dat sy kredietkaart Dinsdag drie keer onsuksesvol vir transaksies in Johannesburg gebruik is.
“Ons wil hê die polisie moet na die beeldmateriaal van die veiligheidskameras by die tolhekke tussen Kroonstad en Johannesburg kyk om te sien of die karre daar deur is,” het Ferreira gesê.
Ferreira het Woensdag aan Maroela Media gesê sy skoonpa se huisalarm het Maandag omstreeks 18:00 afgegaan. Die veiligheidsmaatskappy het Reich, wat alleen in sy huis woon sedert sy vrou, Marie, sowat agt jaar gelede oorlede is, gebel. Hy het hulle verseker niks skort nie.
Om 19:12 het Reich die alarm weer geaktiveer. “’n Vrou wat by die bure se gastehuis werk, het Maandagaand opgemerk als lyk nie wel nie en die polisie in kennis gestel,” sê Ferreira.
“Selfs die polisie is stomgeslaan oor die saak,” het Reich se dogter, Belinda Ferreira, Donderdag vertel. “Dit lyk asof my pa net by die huis uitgeloop het. Ons weet nie. Of hulle het hom buite gegryp, want daar is geen teken van ʼn struweling nie.”
Sy het gesê sy kan nie dink dat haar pa hom teëgesit het nie, want die polisie het geen tekens van bloed gekry nie. “Hy is ʼn vegetariër en baie fiks en gesond vir sy ouderdom,” vertel sy. “En sy verstand is nog vlymskerp.”
Dis vir hulle vreemd dat haar pa se huis oopgestaan het nadat hy vermis geraak het en dat twee selfone in die huis gelos is. Sy paspoort en horlosie is wel uit die huis geneem.
Enigeen met inligting wat die polisie in hul ondersoek kan help, kan die Welkom-polisiekantoor by 057 391 6011 of Stop Misdaad by 08600 10111 bel.
ek bid vir die familie dat karel ongeskonde opgespoor sal word
vertrou en glo in die Here
ek glo dat een of miskien altwee voertuie het ‘n “tacking” stelsel in, dit sal baie help
indien dit nie ontkoppel is of ge-deaktiveer is nie
Here asseblief U moet intree in hierdie wettelose, sondige land!!! Ek bid dat die oom ongedeerd gevind word.
Iets is verseker nie reg hier nie. Ek hoop net hierdie arme oom is veilig en sal gou opgespoor word.
Het iemand al die grense se kameras gaan ondersoek?