Een van die twee honde wat sedert verlede week vermis word nadat kapers met hulle in hul eienaar, Tania Henkel, se voertuig weggejaag het, is Dinsdag dood langs die pad aangetref.
Die oorskot van Stevie Wonder, Henkel se 12 jaar oue beagle-kruising, is in DM Marokaneweg in Tembisa opgespoor. Henkel sê ʼn voertuig het haar hond doodgery, waarna ʼn inwoner hom in ʼn drein langs die pad gegooi het. Dié man het haar Dinsdag gewys waar hy van die oorskot ontslae geraak het.
Sebastian, ʼn tien jaar oue Dalmatiese kruising, is steeds soek. Henkel sê plaaslike inwoners het dié hond glo in die omgewing van Maokeng naby Ndumustraat, ook in Tembisa, gewaar.
Die dood van een van haar honde het egter haar gevoel oor haar nare ervaring heeltemal verander.
“Ek was tot dusver oukei, maar noudat Stevie dood is, is ek só kwaad. Ek het my pragtige hond se gebroke lyfie uit ʼn drein getrek.”
Henkel het haar hond intussen op sy gunstelingplek op hul plaas naby Clayville, waar sy Imbali Cut Flowers bedryf, begrawe.
“Hy was mal oor die plaas.”
Sy sê iemand help haar tans om na Sebastian te soek en pamflette in die omgewing uit te deel.
“Ek sien nie kans om sy pragtige lyfie ook só gebroke te sien nie.”
Henkel sê sy kry baie ondersteuning van die polisie in haar saak.
Sy glo egter dat die regstelsel die polisie se pogings pootjie aangesien hulle misdadigers maklik vrylaat wanneer die polisie hulle vang.
“Ons Grondwet beskerm nie wetsgehoorsame burgers nie, maar eerder misdadigers.”
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
23 Kommentare
Wie was die kapers? Suurstofdiewe wat nie eers die diere se poef werd is nie.
Agge nee!!!! So bitter bitter hartseer….Ek ween…
die gemors
Ai dit is hartverskeurend. Henkel, baie sterkte dink aan jou.
Nee!!!!