Vermiste brakkie ná 22 dae tuis

Tania Henkel by haar hond, Sebastian. Hy was vir 22 dae vermis. (Foto: Verskaf)

ʼn Blommeboer van Pretoria-Oos kon haar oë nie glo toe sy haar vermiste hond, Sebastian, Woensdag langs ʼn vullishoop in Tembisa sien staan nie.

Dié Dalmatiese kruising was 22 dae lank vermis nadat kapers vroeër die maand met Henkel se voertuig weggejaag het terwyl haar twee honde nog op die agterste sitplek was.

Henkel het sedertdien onverpoos na haar honde gesoek en was hartgebroke toe sy die oorskot van haar beagle-kruising, Stevie, op 10 Mei uit ʼn drein in DM Morakaneweg in Tembisa moes haal. Stevie is deur ʼn motor doodgery.

Henkel se grootste vrees was dat dít ook die tienjarige Sebastian se lot sou wees.

“Een van my werkers het Dinsdag na ʼn taxistaanplek in Tembisa gegaan en gevra of hulle magnetiese plakkers op hul voertuie sal plaas om ons te help om Sebastian op te spoor.

“Toe iemand my Woensdagoggend bel en sê hy het Sebastian naby ʼn skool in Tembisa gesien, het ek gedink hy hou my vir die gek. Ek was ook bang mense dink ek het baie geld oor ek ʼn beloning uitgeloof het aangesien ek oor die afgelope weke talle bedrieglike oproepe ontvang het,” het Henkel Donderdag aan Maroela Media gesê.

Hoewel huiwerig het sy saam met ʼn vriendin en ʼn paar van haar werkers na die gebied gery waar inwoners Sebastian glo gewaar het.

Nóg ʼn inwoner het gesê hy probeer die hond al heel oggend vang en later het ʼn vrou haar gebel om te sê dat haar man Sebastian naby hul huis gesien het.

Henkel en haar werkers is eindelik saam met ʼn paar plaaslike inwoners na ʼn informele nedersetting.

Sebastian, ʼn Dalmatiese kruising, en Stevie Wonder, ʼn beagle-kruising. (Foto: Verskaf)

“Ek was baie skepties en by tye vreesbevange omdat hierdie vreemde mense ons al dieper in ʼn informele nedersetting ingelei het.

“Net toe ek wou omdraai het een van die inwoners na ʼn vullishoop gewys en gesê ‘daar is hy’. Ek kon my oë nie glo nie.”

Sy sê Sebastian was aanvanklik maar skrikkerig – vermoedelik vir die vreemdelinge saam met haar. Hy het egter na Henkel toe gehardloop toe die mans ʼn entjie wegbeweeg het.

“Ek was verheug. Die mans wat gehelp het, was op die ou einde wonderlike mense. Hulle my tot gedruk toe ek huil.”

Henkel sê Sebastian was baie skraal en het op pad na die veearts die vreemdste geluide gemaak.

“Dit was soos ʼn tjank-blaf. Die veearts wat hom ondersoek het sê dis weens skeidingsangs en dat hy waarskynlik nog ʼn rukkie so sal maak.

“Sy spiere is ook baie geswel, vermoedelik omdat hy elke dag vir die afgelope drie weke vir vreemdelinge weggehardloop het en heeltyd beweeg het. Sy pote lyk sommer so groot teenoor sy lyfie. Verder is hy blakend gesond. Dis ʼn wonderwerk. Hy het wel ʼn inenting teen hondsdolheid gekry vir ingeval.”

Hoewel Sebastian nog altyd aan Henkel verknog was, volg hy haar nou soos ʼn skaduwee.

“Ek is so verlig om hom by die huis te hê. Dis wel bittersoet omdat ek so hartseer is dat Stevie nie ook hier kan wees nie. Hulle was so ʼn hegte span en nou is hulle nie meer bymekaar nie.”

Henkel sê sy is stomgeslaan deur die hoeveelheid mense wat hul harte oopgemaak en met die soektog na Sebastian gehelp het.

“Daar is soveel mense wat nog vir diere omgee.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Lollapop ·

Want dit is fantastiese nuus, net jammer sy maatjie het dit nie gemaak, dan sou dit nog beter NUUS gewees het

Delia ·

Dit is die beste nuus in n lang tyd en net mense wat diere liefhet, sal dit verstaan en nog wonderliker dat daar nog mense is wat omgee. Gee n mens hoop.
En nuus is nie noodwendig net slegte neerdrukkende nuus nie.

Swerwer ·

Ag moeder! Sò sò dankbaar Sebastian is veilig herenig met sy mens mamma.

Die Boerepompie ·

Baie baie bly jy jou hond trug gekry ons honde is on beste vrind.Ek kan my net indink hoe jy moes stres oor die ????

Carina ·

Otter jy is darem ‘n verskriklike ongevoelige mens. Duidelik het jy nie diere van jou eie nie want as jy gehad het, sou jy dit van die berge af wou gil dat jou hondekind weer veilig is na die verskriklike gebeure. Sies vir jou!

Toy ·

Ek is bitter bly jy het jou hondjie gekry ek weet hoe dit voel, jy huil van blydskap. Die hondekinders is deel van mens se gesin.

Frank John ·

Goed vir hond en baas maar groot is die berig oor dié hond

Lillian ·

Ag ek is bly hy is veilig! Jammer nou van sy maatjie maar ten minste is hy nou terug by sy huis.

Aanhouer ·

Hierdie was ń wonderwerk! So dankbaar vir jou én Sebastian, dankie liewe Vader.

Sandra ·

Dit is sommer wonderlike nuus. Voel sommer lus om te tjank

Chantel ·

Ag, my hart is saam met jou bly. Dankbaar vir die mense wat jou help soek het. Soms is mens ook net goed en die samelweing maak hulle sleg.

Vinny ·

ag hondekind, ek is so bly jys terug by jou ma, seen die mense wat hom gehelp kry het… gee mens hoop vir die mensdom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.