Vermiste branderryer sou volgende maand trou

Robert Frauenstein en sy verloofde, Jana Hiles. (Foto: Facebook)

Die soektog na ʼn branderryer wat langs die kus by Chinsta, noord van Oos-Londen, vermis geraak het, is amptelik afgelas.

Maroela Media het vroeër berig Robert Frauenstein, ʼn 38-jarige sakeman, se branderplank het Dinsdag op die strand uitgespoel. Dit het bytmerke gehad, maar daar was geen teken van Frauenstein nie.

ʼn Grootskaalse soektog met die hulp van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) en die polisie, asook tientalle vrywilligers en vriende en familie van Frauenstein, is daarna van stapel gestuur.

ʼn Week later was daar egter steeds geen spoor van hom nie.

Kapt. Khaya Tonjeni, polisiewoordvoerder, sê polisieduikers en lede van die polisie se soek-en-reddingseenheid het alles moontlik gedoen – maar uiteindelik onsuksesvol – om Frauenstein op te spoor of enige lig op sy verdwyning te werp.

Die soektog na hom is vroeër vandag gestaak. Die polisie het Jana Hiles, Frauenstein se verloofde, amptelik daarvan in kennis gestel.

Hiles se suster, Kerry, het op Facebook gesê gegrond op die toestande en dierebedrywighede op die dag wat Frauenstein verdwyn het, asook die res van die week, glo hulle nie enigiets gaan gevind word nie.

Sy het ook diegene bedank wat met die soektog na Frauenstein gehelp het.

Volgens ʼn skarefinansieringsblad vir die familie sou Frauenstein en Hiles volgende maand trou. Hiles is ʼn sjef by die Barefoot Café en Frauenstein was ʼn IT-tegnikus.

“Jana en Rob was nog altyd daar om kos, raad, vertroosting of net ʼn oor om te luister, aan te bied. Dit is hartverskeurend dat sulke dierbare mense in hierdie stadium soveel seer het,” skryf Maya Gitter-Fox op die blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Tanya ·

Is dit nie Branderplankryer nie? Ipv Branderryer? Wonder maar net. Nie temin, baie sterkte aan die familie in hierdie vreeslike moeilike tyd!

Danie ·

Nou WAT vra ek jou met trane in my oë, beteken die sin:
“gegrond op die toestande en dierebedrywighede op die dag”?

Louise ·

Seker liewer seelewebedrywighede? Hulle bedoel seker haaie, maar wil dit dalk versag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.