Vermiste Centurion-man gevind

Arne Pretorius. Foto: Facebook

Arné Pretorius, die jong man van Centurion wat Sondag spoorloos verdwyn het, is gevind.

Reinhardt Pretorius, Arné (26) se broer, het die nuus aan Maroela Media bevestig. “Hy is gevind en hy is oukei. Ons het nog nie enige besonderhede van wat presies gebeur het nie. Klink my hy is nou in die Kaap, daar in Tsitsikamma se wêreld,” het hy gesê.

“Ons het reeds gereël dat ʼn berader hom kontak om hom rustig en kalm te kry. My pa sal môre-oggend so vroeg as moontlik na hom toe vlieg om hom te kry en dan saam met hom terugry huis toe.”

Reinhardt het gesê dit is nie duidelik wat tot Arné se verdwyning gelei het nie, maar het gesê Arné het uit sy eie weer met sy familie kontak gemaak. “Daar is nou maar baie trane en min woorde. As hy by die huis is, sal ons rustig met hom kan gesels. Vir nou is ons net ongelooflik verlig dat hy gevind is. Almal is maar baie emosioneel in die stadium. Die belangrikste vir ons nou is dat hy veilig is.”

Maroela Media het vroeër berig Arné is die laaste keer gesien toe hy Sondag omstreeks 17:00 by sy ouers se huis in Centurion weg is. Hy sou van daar teruggegaan het na sy broer se huis waar hy woon, ook in Centurion, maar het nooit daar aangekom nie.

Reinhardt het vroeër aan Maroela Media gesê Arné het hom Sondagaand net na 19:00 ʼn SMS gestuur om hom in te lig dat hy by hul ouers gaan oornag. “Hy het in die SMS gesê hy is jammer hy laat weet so laat, maar hy het besluit om sommer by ons ouers se huis oor te slaap en hy sal my die volgende dag sien. Ek was dus nie bekommerd nie, want ek het aanvaar hy slaap net daar oor,” het Reinhardt gesê.

Volgens Reinhardt het hulle later vasgestel Arné het omstreeks 17:25 al die geld in sy bankrekening by ʼn kitsbank by Eldo Village Mall in Saxby-weg onttrek. Sy motor is ook op die beeldmateriaal van ʼn veiligheidskamera by ʼn nabygeleë vulstasie opgemerk.

Arné het homself ook Sondagoggend van sy werk se WhatsApp-groep verwyder en die middag homself heeltemal van WhatsApp af verwyder.

Nadat Arné Maandag by die polisie as vermis aangemeld is en ʼn volskaalse soektog na hom van stapel gestuur is, is een van sy twee selfone se sein in die Kroonstad-omgewing waargeneem. Dit is nog nie duidelik hoe sy selfoon in dié omgewing opgeëindig het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Nico ·

Ek is bly die jongman is veilig. Almal is deesdae onder ontsettende druk. Ek bid en hoop vir sy volkome heelwording.

snoefie ·

ten minste vra die gesin nie nou dat hulle privaatheid gerespekteer word nie. sterkte aan almal. dank aan die Vader.

Privaat ·

Snoefie, dit beteken ook nie dat ons nou nie hulle privaatheid hoef te respekteer nie. Wat gebeur het is tussen Arne en sy familie en het niks met die publiek te doen nie

Sê-Maar-Net ·

Ek stem saam met Privaat… Dit beteken nie ons moet nie hulle privaatheid respekteer nie. Die feit dat sy broer genome het hy is veilig is genoegsame inligting… Die res het niks met ons uit te waai nie…

G ·

Ek stem saam, Snoefie. Hulle het dit baie beter hanteer as die voriges wat net sê: ‘respekteer ons privaatheid’. Daarmee bedoel ek nou glad nie die publiek hoef als te weet nie. Dit klink net altyd vir my so ongeskik as hul eweskielik daai sinnetjie gebruik nadat hul gekry het wat hul wou hê. Sê net baie dankie vir almal se hulp, die persoon is ongedeerd. Respek vir mekaar se privaatheid behoort ‘n ‘given’ te wees, maar nou ja, dit sal nooit gebeur nie nè?

Piet ·

“Vanselfsprekend” is n baie beter woord om te gebruik as om te se iets is n “given’ of n gegewe. Jy is egter reg as jy se dat respek vir ander behoort n gegewe te wees. Die meeste mense in SA weet nie eers wat is respek nie. Hulle dink dalk dis n snit op n vark!

Dankbaar ·

Ek ken nie die jongman nie maar ek het saam gebid vir sy veiligheid. Dank die HERE dat hy nie nog ‘n riller statistiek geword het nie. Ek is SO bly hy’s veilig. Ek hoop hy vind vrede en dat dit met hom goed sal gaan.

AP ·

So verskriklik bly hy is veilig, dankie vir sy broer om ons in te lig mens wonder altyd en hou maar die koerant dop, baie bly vir sy ouers en familie.

Cor ·

Ten minste een nuuswaardige storie met n goeie einde. Dankie ook aan sy broer wat terugvoering gegee het, want so dikwels word daar vir hulp gevra en nooit weer kry mens terugvoering van die betrokkenes nie.

RikaG ·

Dis nou baie goeie nuus so bly vir die familie. Bid vir julle en sterkte daar.

Amanda ·

Man dit nou wonderlike nuus. het sommer n traan gesluk. Jong man wees net sterk!

Ouvrou ·

Dankie, dankie, dankie vir die goeie nuus. Sterkte aan mamma en pappa en die jong man.

Mel ·

So dankbaar vir ‘n gelukkige einde! Ek dink ons almal het al gevoel ons wil net verdwyn. Duidelik het hy ‘n ongelooflike ondersteuningsnetwerk – dit help so baie!

nita ·

Die jongman moet dalk n psigiater spreek. Sulke optrede dui op dieperliggende probleme. Bly hy het besin en en besluit om sy familie te kontak.

Dankbaar ·

Dankbaar, Sterkte aan almal wat moet herstel en weer bou aan vertroue…Ons geliefdes word aan ons geleen ..omarm mekaar..help DRA aan mekaar se laste….Bid saam vir een doel beteken omgee meegevoel als wat samelewing SOOOOO nodig het.

Louise ·

Baie dankbaar hy is veilig en dit gaan nie net oor privaatheid nie. Vir my gaan dit oor as iets gebeur wil ek weet want dit skep bewusmaking binne my om te weet wat aan die gebeur is in ons land en moonlik waarvoor om op die uitkyk te wees.

Theresa ·

Jubelend bly die jongman het sy familie gekontak en is veilig.
Nou kan hy vir sy mense vertel waarom hy homself van sy werk se whatsapp groep verwyder het. Ek glo vas dit was die begin van sy storie.
Hoop alles verloop vir hom en sy mense wat hom wil ondersteun, goed.
Nog ‘n jongman. Die lewe kan soms baie wrede draaie loop – mag die probleme en/of ongelukkigheid uitgesorteer word. Dankie aan die broer wat ons wat belang gestel het, se terugvoer.

Moeksie ·

Aan die familie: moenie vir hom te kwaad wees nie. Soms raak die lewe net te veel en dan dink jy nie hoe jou dade ander gaan raak nie. Baie baie sterkte vir julle almal. En aan die skoonsus wat gister verwoed vir haar familie op hierdie forum baklei het: Jy is ‘n vrou 1 000. Mag daar meer sulke vrouens soos jy wees.

Dawie ·

Dit is baie mooi om te sien hoe mense by mekaar kan staan ongeag geskiedenis van wat se aard, dit is nou onvoorwaardelike liefde vir die mede mens deur die Here se leiding om ons volk bymekaar te hou. Sterk wees,

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.