‘Vermiste’ Centurion-tiener vertel van ontvoeringsdrama

Stephan Smit is veilig opgespoor. Foto: Facebook

Stephan Smit is veilig opgespoor. Foto: Facebook

Dawid Stephan Smit (17), ʼn leerling aan Hoërskool Centurion in Lyttelton wat Woensdagmiddag spoorloos verdwyn het, het met die polisie sy beweerde ontvoeringsnagmerrie gedeel nadat hy Donderdagoggend in Potchefstroom opgespoor is.

Smit is Woensdag as vermis aangemeld nadat hy omstreeks 14:15 vir die laaste keer gesien is toe hy na die gimnasium by sy skool, twee blokke vanaf sy ouerhuis, gestap het. Daar is onraad vermoed toe hy nie sy vriende ontmoet het om te gaan oefen nie. Sy foon was ook afgeskakel en sy bekommerde ouers en vriende kon hom nie opspoor nie. Sy ouers het ʼn vermistepersone-saak aanhangig gemaak, waarna die Pink Ladies, ʼn nie-winsgewende organisasie wat hom daarop toespits om vermiste persone op te spoor, plakkate met sy inligting daarop versprei het. Die polisie, gemeenskap en vrywilligers landwyd is vinnig gemobiliseer om na Stephan te help soek.

Kapt. Colette Weilbach, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê Smit is Donderdagoggend met sy ouers herenig en het die middag by sy ouerhuis sy getuienis aan die polisie gegee.

“Volgens Stephan was hy op pad na die gimnasium toe hy omstreeks 14:20 by ʼn park in Trichardtweg in Lyttelton deur twee onbekende mans genader is,” het Weilbach gesê. “Hy beweer die mans het hom gegryp en gedwing om ʼn pil te drink. Hy het probeer om hom teë te sit, maar is aangerand, waarna die pil in sy keel afgedruk is.”

Stephan het gesê hy het daarna gedisoriënteerd gevoel. “Hy kan onthou dat hy in ʼn voertuig was en onthou dat die mans vir hom nog ʼn pil gegee het toe hy begin het om sy bewussyn te herwin.”

Die seun beweer toe hy weer sy bewussyn herwin het, was dit donker en hy was alleen in ʼn veld naby Potchefstroom. ʼn Student het op hom afgekom waar hy langs die pad gestaan het. Sy het stilgehou om hom te help, waarna sy hom na die Potchefstroom-polisiestasie geneem het.

Die polisie het sy ouers gebel. Hy het steeds sy selfoon by hom gehad, maar die battery was pap.

“Hy kan tans nie die verdagtes, of die soort voertuig waarin hy was beskryf nie. Sy ouers het nog nie ʼn ontvoeringsaak vir verdere ondersoek aanhangig gemaak nie. Sy ouers en onderwysers beskryf hom as ʼn voorbeeldige kind en kan glad nie aan ʼn motief vir die misdaad dink nie.”

Weilbach het gesê sy ouers het hul dank en waardering uitgespreek teenoor die polisie, die student en almal wat help soek het na Stephan.

Dessie Rechner, stigter en direkteur van die Pink Ladies, het ook haar dank en waardering uitgespreek teenoor almal wat inligting oor Stephan op sosiale media versprei het. “Ons is baie dankbaar dat hy veilig en ongedeerd gevind is. Laat die genesing begin,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.