Vermiste Centurion-vrou gevind

Mihke Nel

Mihke Nel

Mihke Nel (23) wat Dinsdag spoorloos verdwyn het nadat sy ʼn paniekerige oproep na haar tannie gemaak het, is gevind.

Hugo Erasmus, voorsitter van Lyttelton sektor 1 gemeenskapspolisiëringsforum in Centurion, het aan Maroela Media bevestig Mihke is gevind. Sy het net voor 20:00 by hulle aangekom.

Die polisie is besig om haar verklaring af te neem.

Maroela Media het vroeër berig verskeie rolspelers in die Centurion-gemeenskap het kragte saamgespan om na Mihke te soek nadat sy haar tannie, Mariki Nel, gebel het om te sê iemand agtervolg haar.

“Help asseblief, my swaer se dogter bly by ons en sy het my nou paniekerig gebel en gesê iemand agtervolg haar,” het Mariki op die Facebook-groep, People who live in Centurion, geskryf. “Daar is iemand wat haar vreeslik terroriseer en intimideer. Ek het vir haar gesê om na die naaste polisiestasie te ry.”

Sy het omstreeks 12:20 vir die laaste keer van Mihke gehoor. Sy is glo deur ʼn rooi Volkswagen Golf met donker ruite en sonder nommerplaat agtervolg, toe sy die laaste keer met Mariki gepraat het.

Erasmus het gesê die persoon in die rooi Golf het haar in Gerhardstraat in Centurion, tussen die News Cafe en die polisiestasie, van die pad afgedruk, haar uit haar motor gepluk en haar selfoon gegryp.

“Mihke was na die voorval glo heeltemal getraumatiseer en het van daar na Waverley gery en in ‘n parkeerarea gaan sit. Haar vriendinne het haar uiteindelik hier opgespoor en haar tannie het haar gaan haal,” het Erasmus aan Maroela Media gesê.

Mihke sal Woensdag traumaberading ontvang.

Volgens Erasmus ondersoek die polisie ‘n saak van diefstal, maar verdere aanklagte kan moontlik volg. Die polisie se ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.