Vermiste DA-lid: ‘Die ergste is dat sy nie huis toe kom nie’

Petro Nel. Foto: Facebook

Petro Nel. Foto: Facebook

Die familie van Petro Nel (58), die adjunkleier van die DA in Noordwes, wat op 8 Oktober in Nepal vermis geraak het, het gister van haar afskeid geneem.

Nel se twee seuns, Johnny en Juan, en haar man, JC, het Maandag by ʼn tempel in Pokhara, Nepal, afskeid geneem. “Sy het na Nepal gekom om haar droom uit te leef en sy sal in haar droomplek agterbly,” het Johnny op sy Facebook-blad gesê. “Waar ook al sy nou is, sy sal elke dag aan ons sy wees. Dit was ʼn moeilike 27 dae vir ons drie wat nie geweet het of sy gekry sal word of nie. Die ergste is dat sy nie huis toe kom nie.”

Petro het vermis geraak toe die ligte vliegtuig waarin sy ʼn passasier was oor ʼn bergagtige gedeelte in Nepal verdwyn het. Sy en ʼn Russiese vlieënier was die enigste insittendes in die vliegtuig toe dit vermis geraak het. Sy was glo met vakansie in Nepal.

ʼn Uitgebreide lug- en grondsoektog is van stapel gestuur en daar is weke lank na tekens van die vliegtuig gesoek. Daar is egter nooit enigiets gevind nie.

Chris Hattingh, voormalige DA-leier in Noordwes, het aan Maroela Media gesê Petro se gesin sal Dinsdagaand na Suid-Afrika terugkeer. “Ons sal ʼn ‘viering van Petro se lewe’-geleentheid reël sodra JC en die seuns gereed is daarvoor,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Lettie ·

Daan met alle respek die vrou van 2 kinders en ‘n man is vermis. Dit is siek om so ‘n aantyging te maak. Hierdie familie het seer baie seer. Sies skaam jou!!!!!!!

SNEL ·

Baie sterkte aan Petro se familie, dit moet vreeslik wees om nie te weet waar julle geliefde is of wat presies met haar gebeur het nie. Mag die Here julle dra en krag gee, en mag julle wel antwoorde vir al julle vrae kry, al is die soektog gestaak. Mag iemand iewers wel iets opmerk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.