Vermiste dossier opgespoor

Ian Cameron en Janelle Laattoe (Foto: Action Society)

Die dossier van Janelle Laattoe, ʼn slagoffer van geslagsgebaseerde geweld, is wonderbaarlik gevind nadat senior polisiebeamptes dit by die Delft-polisiestasie in die Wes-Kaap verloor het.

Dié aankondiging volg minder as ʼn week nadat Janelle met behulp van Action Society haar storie en die probleem met die vermiste dossier tydens ʼn nuuskonferensie openbaar gemaak het.

“Ons het verlede week gehoor dat die dossier gevind is en ons is inderdaad tevrede,” sê Ian Cameron, die direkteur van gemeenskapsveiligheid by Action Society.

Dié drukgroep beplan egter steeds om die betrokke polisiebeamptes oor die verlore dossier by die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) te verkla.

“Ons sal nie toelaat dat onbevoegdheid en korrupsie op senior vlak ons ontmoedig om vir slagoffers van geslagsgebaseerde geweld te veg nie. Ons sal met ons regspan vergader om voort te gaan met die klag teen die senior lede wat die dossier ‘verloor’ het.”

Janelle het in 2019 ʼn saak aanhangig gemaak teen haar kêrel wat haar mishandel het. Hy is in hegtenis geneem en het oor die volgende anderhalf jaar ʼn paar keer in die hof verskyn. Die saak is egter in Desember 2021 voorlopig teruggetrek. In Januarie 2022 het Janelle daarop begin aandring dat haar saak op die hofrol geplaas word.

Niks het gebeur nie en sy het Action Society genader.

Ná 15 oproepe na die Delft-polisiestasie en verskeie persoonlike besoeke aan die stasie, het Action Society en Janelle vasgestel dat haar dossier skoonveld is. Haar laaste verklarings is boonop ook nie digitaal gestoor nie.

Lees Maroela Media se aanvanklike berig oor Janelle se storie hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nie Verbaas ·

Cele, jou lede doen “fantastiese werk” net soos hulle minister. “Gehoed en getie” maar misdadigers hou aan maai.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.