Vermiste egpaar geïdentifiseer; nóg een vasgetrek

Nick Bailey saam met Rodney (73) en Rachel Saunders (64) (Foto: Twitter via @nickbailey365)

ʼn Derde verdagte is Maandag in hegtenis geneem in verband met die verdwyning van ʼn Wes-Kaapse egpaar wat sedert 12 Februarie vermis word.

Kapt. Lloyd Ramovha, woordvoerder van die Valke, het dié nuus aan Maroela Media bevestig.

Die egpaar, wat Sondag in die Britse media as Rodney (73) en Rachel Saunders (64) geïdentifiseer is, was glo voor hul verdwyning besig om ʼn natuurprogram vir die BBC saam met die televisieaanbieder Nick Bailey te verfilm. Hulle is vermoedelik in Vryheid in KwaZulu-Natal ontvoer.

ʼn Landwye soektog na die Saunders-egpaar is verlede week van stapel gestuur. Ramovha het vroeër gesê die egpaar woon al sowat 25 jaar in Kaapstad, maar het ook burgerskap in die Verenigde Koninkryk. Hy het bevestig dat Sayfydeen Aslam del Vecchio (38) en Fatima Patel (27) reeds in verband met hul verdwyning in hegtenis geneem is.

Ramovha het Maandag aan Maroela Media gesê die derde verdagte, ʼn 23-jarige, is in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem. Hy het ook bevestig dat die egpaar se voertuig, ʼn Land Cruiser, in Durban opgespoor is – sowat 300 km verder van waar hulle vermis geraak het. Hy wou nie meer inligting oor die ondersoek bekend maak nie.

Die Britse webwerf Mirror het Sondag berig die egpaar was sedert die begin van die jaar besig om saam met Bailey aan die Gardeners’ World-program te verfilm. Volgens bronne bedryf hulle glo ʼn aanlyn onderneming – bekend as Silverhills Seeds – waar hulle saailinge verkoop.

Volgens ʼn inskrywing deur Bailey op sosiale media is die egpaar kenners op die gebied van inheemse Suid-Afrikaanse plante. “Die ongelooflike Rod en Rachel Saunders van Silverhills Seeds. Hulle ken inheemse Suid-Afrikaanse… en meer belangrik, waar om die plante te vind,” het hy geskryf.

Del Vecchio en Patel word aangekla van ontvoering, brandstigting en moontlik ook van terreur. Die saak van brandstigting hou verband met ʼn voorval waarin suikerrietlande van Hulett in 2017 aan die brand gesteek is. Volgens Ramovha het die skade van die brand sowat R2 miljoen beloop. Die egpaar word glo ook al vir jare verbind met die terreurgroep Isis.

Del Vecchio en Patel sal weer op 1 Maart vir ʼn formele borgtogaansoek in die hof verskyn. Die 23-jarige verdagte sal vandeesweek nog op aanklag van ontvoering in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

jaco ·

As ek ook burgerskap van ‘n ordentlike ordelike veilige Europese land gehad het, was ek LANKAL weg uit hierdie stupid land waar mens gedurig ALLES moet sluit en beveilig en gedurig versigtig moet wees. Hierdie 2 het darem nog so ‘n “agterdeur” gehad. Dis jammer hulle het dit nooit gebruik nie.

Piet Pompies ·

Die berig is seker na aanleiding van die Islamitiese terreur groep waarvoor die Verenigde koningkryk die terreur waarskuwing uitgeriek het.

Casper Labuschagne ·

Nog ‘n tragedie, elke keer net ‘n variasie op dieselfde tema waar die slagoffer, wit is en aan ‘n geslag of ouderdomsgroep behoort waar hulle as weerloos beskou word. In die VSA is daar steeds ‘n nasionale krisis omdat 17 kinders in ‘n skool vermoor is. In SA trek die daaglikse telling al by 17 verby so tussen sewe- en agtuur soggens, met oor die 51 moorde wat per dag gepleeg word.

Ekskuus? ·

Is dit die Saunders egpaar wat al vir jare met die terreurgroep Isis verbind word of is van die verdagtes ook ‘n egpaar?

Casper Labuschagne ·

Die Britse Sun koerant berig dat die verdagtes met ISIS verbind word. Die Britse koerant noem ook die name van die verdagtes, iets wat plaaslike media nie mag doen, totdat hulle aangekla is nie. The Sun vermeld ook dat daar niks is wat hierdie misdaad met ‘n terreurdaad verbind nie.

Christine ·

Die paragraaf verwys spesifiek na die Del Vecchio en Patel egpaar.

Valerie ·

O, wat ‘n pragtige land, maar gelukkig wys die SABC hoe Cyril in die oggend oefen. Hel, was dit nie vir dit nie…

Alida 2 ·

Nou is ek baie deurmekaar.
2 Verdagtes se name word genoem maar hulle het nog nie formeel vir borg aansoek gedoen nie. Die derde verdagte se naam word verswyg.
Het dit met ras te doen?
So jammer dat misdaad net meer word

Theresa ·

Is die verdagtes Suid-Afrikaners?
Hoop van harte borg word geweier. Kan hier saam met Interpol gewerk word? Wat se snert is dit dat hierdie mense in die land inkom en ander wat hulself met goeie dinge besig hou, ontvoer en ander skade aanrig? Sulke gedrag moet in die kiem gesmoor word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.