Vermiste Eskom-vrou se liggaam in kantoor gevind

Thembi Lucia Yende. Foto: Verskaf

Die liggaam van die Oos-Randse Eskom-vrouewerker is twee weke nadat sy vermis geraak het in ʼn kantoor by haar werkplek gevind.

Kapt. Kay Makhubele, provinsiale polisiewoordvoerder van Gauteng, het by navraag aan Maroela Media bevestig die liggaam van Thembisile (Thembi) Lucia Yende (29) is Maandag gevind.

Maroela Media het vroeër berig Yende is op 17 Mei deur haar ma as vermis aangemeld nadat sy die dag nie van haar werk af teruggekeer het nie.

“Thembi werk vir Eskom in Springs. Sy is die laaste keer deur haar vriend, met wie sy ʼn verhouding het, by haar blyplek in Tsakane gesien toe sy werk toe is,” het sers. Harry Manaka, ʼn plaaslike polisiewoordvoerder, kort ná haar verdwyning gesê.

Manaka het gesê die Eskom-voertuig waarmee Thembi gery het, is op 18 Mei by die Peter Botha-substasie in Springs opgespoor. Die voertuig was gesluit, daar was geen teken van Thembi nie en haar selfoon was afgeskakel. “Volgens Eskom het Thembi nie die dag vir werk aangemeld nie, maar die opsporingstoestel dui aan dat die voertuig langer as 12 uur by die substasie geparkeer was.”

Dit het intussen aan die lig gekom dat die kringtelevisiekamerastelsel by die substasie glo die dag afgeskakel was. Eskom het aangedui hulle ondersoek die rede hiervoor.

Die polisie het ʼn vermistepersoonsaak ondersoek en talle leidrade, asook fopoproepe wat op lospryse aangedring het, opgevolg. Eskom het die polisie in hul ondersoek bygestaan.

“Die polisie is Maandag na die substasie ontbied waar ʼn kantoor, wat nie gebruik is nie, aan beamptes uitgewys is waaruit ʼn vreemde reuk gekom het,” het Makhubele gesê. “Die polisie moes die deur afbreek, want dit was gesluit, en het daarna op die vermiste vrou se liggaam afgekom.”

Makhubele het gesê die oorsaak van die vrou se dood is nie dadelik bekend nie en sal deur ʼn nadoodse ondersoek bepaal word. In die stadium doen die polisie ʼn geregtelike doodsondersoek. Sou vuilspel vermoed word, kan dit verander na ʼn saak van moord.

Eskom het by navraag aan Maroela Media gesê die kragvoorsiener is hartseer om van Thembi se dood te verneem.

“Eskom werk nou saam met die polisie en haar familie om die omstandighede rondom haar dood vas te stel,” het Elsie Pule, groepshoof van menslike hulpbronne, gesê.

Pule het gesê Eskom sal haar familie met berading en “op enige ander moontlike manier” bystaan.

Pule het namens Eskom hul innige meegevoel aan die Yende-familie betuig. “Ons bid dat haar siel in vrede sal rus en dat God haar familie, kollegas en vriende krag in hierdie moeilike tyd gee.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Jean ·

HOE OP AARDE KOM JY NIE AGTER IEMAND IS AL TWEE WEKE DOOD BY DIE WERK NIE?? Ek het hierdie storie nou oor en oor gelees. Volgens ESKOM het sy nie aangemeld vir werk nie maar haar LYK is in ‘n kantoor by die werk gevind? SKOKKEND dat ‘n reuk die werknemers moes WAKKERMAAK .. het niemand gedink daaraan om haar by die werk te soek nie? REGTIG hierdie was ‘n eerste!

LORAINE DUPPER ·

Die kantoor waar sy gevind is was nie haar kantoor nie…dit was n kantoor wat in onbruik was….lees weer mooi…

B ·

Dis verskriklik! Hoe weet jy nie iemand was lanklaas gesien nie… Of dit daai scenario van ‘ we don’t really care about our colleagues’ Dis baie hartseer eintlik hoor! Almal moet mos nie net by die huis omgee vir jou gesin en familie en vriende nie…al is dit werks mense… Loer af en toe in hulle kantoor of hulle okay is… Ek doen dit gereeld…maar ek is paranois ALTYD.

Robert ·

Vroue,kinders, boere, almal is as jy net die media lees.
Wat vir my skrikwekkend is , is die feit dat met misdaad slegs ongeveer 20% sake opgelos word. Andersins daarna gekyk glo ek dat 1 uit elke ong 15 persone ń misdaad geskiedenis het wat daagliks vry rondloop, en nog verder kan kwaad doen.

Theresa ·

Lyk asof die liggaam in die kantoor gelos was. Want die berig sê die kantoor word nie gebruik nie. Sou dink dis moord. Hoop die omgewing word gefynkam en die skuldige vinnig gevang en gevonnis.

Martin ·

Ek wonder of die kantoor van binne of van buite gesluit was?

?!? ·

Met verwysing na Kobus se kommentaar op die oorspronklike berig – ek hoop jy vra nou om verskoning…

Kobus ·

Dagse ?!?….Ek sal op hierdie forum my verskoning onvoorwaardelik plaas indien die geregtelike ondersoek bepaal dat dit moord,natuurlike sterfte sou wees…indien dit selfdood sou wees…ongelukkig nie….

??? ·

Die berig en die een op news24 is totaal en al verskillend… News24 berig dit was haar kantoor en dat polisie en polisie honde wel die kantore gaan deursoek het, alhoewel haar kantoor gesluit was en die honde niks opgetel het nie???

Freud ·

Word kantore, gebruik en ongebruik dan nooit skoongemaak by Eskom nie? Die skoonmaker moes ook seker gewonder het hoekom hy/sy nie in die kantoor kan kom nie.

Pieter ·

@Freud dis wat ek ook gewonder het by ons is ook lee kantore maar glo my elke week word hulle oopgemaak en skoon gemaak!!!!!

Afrikaanse Knaap ·

Ek kan et nie glo dat hulle nie die substasie ordentlik deursoek het siende dat haar voertuig daar gevind is nie.
As die SAPD nie eers daai bietjie moeite doen met ‘n vermiste persoon nie… Kan ek verstaan dat iemand maklik nooit gevind sal word nie. Dis skokkend.

Andrew ·

Afrikaanse Knaap. Het jy al ooit na ‘n vermiste persoon gesoek? Jy weet nie eers wie het dit aangemeld, wanneer is dit aangemeld, watter feite is voorsien ens ens nie. Vir jou gaan dit net oor die polisie wat nie hul werk gedoen het nie.

Hierdie is ‘n hartseer geval waarvan die legkaart van gebeure steeds gebou word. Ek is nie daarby betrokke nie maar weet minstens hoe dinge in die werklike lewe werk.

Geskok ·

So van wanneer af roep ‘n mens die polisie uit as daar ‘n slegte reuk uit ‘n vertrek kom. Behalwe as jy weet wat die reuk veroorsaak…

Daan Erasmus ·

Nou hoekom verbaas dit my nie. Die helfte van die Eskom werkers sal 6 maande van die werk af weg wees voor iemand agtergekom. So min doen die gemiddelde werker.

VanAfrika ·

Eish, ons is sub-kontrakteurs van Eskom wat onder die Eskom sambreel werk vir Eskom wat weer ons klient is en agtelosigheid van Eskom is nie die geval nie. Ons val streng onder Eskom veiligheid reels en ons word goed na gekyk en “ZERO TOLLERANCE” is ons wagwoord en aan die orde van die dag. Ons hou gereeld “toolbox talks” en ons veiligheid in die kantore of op kragstasies word bespreek en op gehamer. Ons het “designated areas” waar ons mag loop en waar ons “nie mag loop nie” tensy ons “safety gear” soos ons oranje jakkies en “safety boots” aan het. Dit geld nie net vir die mans nie maar vir ons vrouens ook. Glo vir my, as daar agterlosigheid was sal Eskom dit ondersoek met hulle eie ondersoek span wat baie goed is. Sou ons enige iets doen wat ons of enige iemand se lewe in gevaar stel, sal daar tugstappe wees en ons staan n kans om ons werk te verloor. So moenie altyd vinger na Eskom wys en dat dit altyd ons skuld is as iets grusaam met een van ons kollegas gebeur het nie. Kom ons wag op die uiteinde van die saak want ons weet nog nie wat regtig gebeur het nie want die polisie vermoed nog nie vuilspel nie.

Tjert ·

Het enige een van julle ‘n idee hoeveel mense werk by Eskom??? Omtrent NET 30%!!!

Jos ·

So, die nuwe neiging is dat as mens iets vreemd ruik jy die SAPS moet uitroep, hahaha, hulle gaan te min personeel he asook glad nie by ander sake uitkom nie en dan was die kringtelevisie kamerastelsel die spesifieke dag afgeskakel. Ek ruik ‘n ROT!

Willie ·

Wat het geword van aanteken register of inklok time and attendance by Eskom dan??? Ek kan nie sien dat so maatskappy mense tot hulle persele toelaat sonder om register te hou van hulle nie.

Elize C ·

Ek weet glad nie hoe lyk die spesifieke substasie se “set-up” nie, so my kommentaar is nou heeltemal uit onkunde: sommige substasies wat ek al gesien het, het slegs ‘n een-kamer-geboutjie, wat heeltemal onbeman is en in werklikheid permanent toegesluit is, behalwe as daar spesifiek iets by daardie substasie deur ESKOM gedoen moet word. Met dit in gedagte: die feit dat haar motor daar gestaan het, kon dalk die polisie laat dink het sy was ge-hijack – terwyl sy laas gesien is op pad na haar werk, wat NIE die substasie is nie) en dat die voertuig net daar gelos is – ek stem saam, die gebou kon in elk geval maar deursoek geword het. Dit sou net vir my vreemd wees as sy vermoor was, daar of iewers anders, dat die moordenaars haar motor daar sou los, sou hulle nie dalk besef dat die gebou die eerste plek is (veronderstel om te moes wees) waar daar gesoek sou word nie, sou hulle nie eerder die motor as “get-away” kar gebruk het nie? En die kringtelevisie wat toevallig daardie dag af was; as dit NET daardie dag was, wil dit voorkom asof dit met voorbedagte rade afgeskakel is. Dalk deur haarself Kobus…? Mens laat kom nie die polisie uit vir ‘n “slegte” reuk nie, maar wel as jy duidelik die reuk kan uitken as ‘n ontbindende liggaam. Die persoon wie die reuk agtergekom het, het dit seker maar saamgesit met haar motor wat daar gestaan het….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.