Vermiste hengelaar dood gevind

Hans Roelofsen. Foto: Facebook

Hans Roelofsen. Foto: Facebook

Hans Roelofsen, ʼn inwoner en hengelaar van Tweni naby Port Shepstone in KwaZulu-Natal, se liggaam is Saterdag opgespoor nadat hy vyf dae vermis was.

Maj. Thulani Zwane, provinsiale polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê Roelofsen is Dinsdag 30 Junie vir die laaste keer om 06:30 gesien toe hy vermoedelik met sy wit Toyota-bakkie gery het om te gaan hengel.

ʼn Vermistepersone-saak is deur sy familie aanhangig gemaak toe hy nie die dag teruggekeer het nie.

“Die polisie het saam met ʼn opsporingsmaatskappy gewerk en die sein van ʼn toestel in sy bakkie nagegaan,” het Zwane gesê. “Ondersoekbeamptes het Saterdagoggend die sein tot ʼn gebied naby Batstone Drift gevolg, waar die bakkie gevind is.”

Roelofsen se liggaam buite sy bakkie tussen suikerriet gevind. Hy is in die kop geskiet. “ʼn Vuurwapen het langs sy liggaam gelê,” het Zwane bygevoeg.

Die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek. Geen vuilspel word vermoed nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Henk ·

Hannelie, die gratis Afrikaanse nuus is ‘n voorreg, maar ek kry die gevoel dat die taalmisbruik jou ook grief. Ek is nie ‘n puris of die grootste taalkenner ooit nie, maar regtig, Maroela: jul kort ‘n professionele persoon om taalkundige versorging te doen. Wil julle my nie maar in diens neem nie?

Sune van Heerden ·

Dagsê Henk en Hannelie

Ons vra om verskoning indien daar foute in dié berig deurgeglip het.
Ons het die teks gewysig.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Piet Spies ·

Hiers te veel mense wat dink dit is hulle plig om Maroela Media afrikaans te leer. Word liewers ‘n onderwyser dan kan jy heeldag foute uitwys en reghelp. As MM julle pla, hou verby. Gaan lees News24! Kinderagtige klomp!

Retha ·

Hoor hoor, Piet Spies!!! Dis GRATIS, julle ou klomp suurknolle!!! Hou op foutvinderig wees en waardeer eerder MM se nie-winsgewende nuus. Ja, gaan lees Nuus24 en DAN sien ons hoeveel van die kritici spring daar uit! Dit so jammer: daar moet altyd iemand iewers wees wat mislik moet wees. Daar is soveel naar en droefheid om ons-beweeg weg en waardeer die eenvoudige met oorgawe!

SNEL ·

Ek stem, Piet Spies, ek is baie dankbaar vir Maroela en die geleenthede om die nuus elke dag te kan lees en dit nog gratis. Baie dankie Maroela!

Rln uit New Zealand ·

Ek stem saam Piet en Snel….. Hulle kry die nuus verniet dan kla hulle nog!… gaan lees News24 waar jy moet betaal dan kan jy kla.
Dankie Maroela vir die nuus wat ons so lekker kan lees al is daar hier en daar n fout. Niemand is volmaak nie.

Estelle ·

Ek geniet MM se nuus. Daar sal maar altyd kla-gatte wees, al kry hul iets verniet!

anne ·

Ek moet ook stem, die alewige foute uitwys gee mens regtig ‘n pyn!!

SI ·

Daar sal altyd hierdie ‘wysneuse’ wees …. gun hulle die bietjie plesier! Stem saam … gaan word ‘n onderwyser!

Lucy ·

Ai tragies. Sterkte aan die familie.

Dankie Maroela Media vir die gratis diens wat jul verskaf.. ek sien nie eens die taalfoute raak nie..oops

ig ·

Die ou kla gate is nou juis die ooms en tannies waarvan niemand hou nie.As ek die kern van die nuusberig verstaan maak die korrektheid van die taal nie saak nie.Dit is hoeka Maroela Media en nie Maroela Puriste Taalvereeniging nie

Peet Schabort ·

ig, SI, anne, Estelle, Rin, Piet en SNEL. Ek wil in alle eerbied teenoor julle verskil en julle kan daarmee maak net wat julle wil.
Daar moet onthou word dat daar heelwat jongmense is wat ook die nuus lees op Maroela en dus dan ook verkeerdelik leer hoe ons moedertaal Afrikaans se spelling en sinsnedes daar uitsien en gebruik moet word. Ek dink dit is uiters onregverdig teenoor hulle om opsigtelike blapse te laat deurgaan van Maroela se kant. Ek is seker dat Maroela ook gemik is op korrekte gebruik van ons lieflike taal en dit waardeer om foute uit te skakel en daarop gewys te word. Van ons die kommentaarlewer se kant is foute verstaanbaar want daar was ‘n tyd op skool waar die onderwysers nie ‘n flenter omgegee het oor taal en spelling. En julle, met alle respek, wat kommentaar lewer kan heel moontlik die produk wees van daardie onreg julle aangedoen.
Ook is ons nie almal taalkundig aangelê en blink elkeen uit vir wat hy voor bestem is op hierdie aardbol en sy gemeenskap.
Is dit nou ‘n koeëlwond aan/op/in/teen die kop ?
Is dit kla-gatte of kla gate of klagate ?
Is dit Taalvereeniging of Taalvereniging ?
Moenie dat ons ons jeug opfoeter met foutiewe taal wat verhoedbaar is.
Verstaanbaar is om te wil kla oor die weglaat van ‘n komma, ‘n punt, ‘n “‘n”, ‘n die ens. Dit is om ‘n pyn in die agterstewe te wees.
Wat wel nie vir my aanvaarbaar is is die wyse wat Henk die fout(e) uitwys.

Pendoring ·

Julle kan mos sien Henk soek werk. Seker afgelê by sy vorige werk omdat hy so baie gekla het. :-)

Retha ·

Baie sterkte aan al die naasbestaandes. Die pyn wat met so iets gepaard gaan kan niemand beskryf nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.