Vermiste Hennie lewend gevind

Die vermiste Hennie van der Merwe (Foto: Pink Ladies/Verskaf)

Hennie van der Merwe, die man van Southport in KwaZulu-Natal wat verlede maand vermis geraak het, is vandeesweek ongedeerd in die Vrystaat gevind.

Lt.kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die 60-jarige Van der Merwe is Dinsdag by ʼn skuiling in Bethlehem aangetref nadat die polisie met behulp van sy selfoon sy ligging kon bepaal.

Dié pensionaris het op 1 Julie vanjaar uit sy huis in Sunwich Port aan die Suidkus verdwyn nadat sy verloofde die oggend werk toe is. Van der Merwe en sy poeierblou Fiat Uno was sedertdien skoonveld. Die voertuig is vandeesweek in sy eienaar se besit aangetref, het Zwane gesê.

Van der Merwe se familie moes verlede maand daarby berus dat hul geliefde dood is nadat ʼn liggaam langs die N4 buite Komatipoort in Mpumalanga verkeerdelik as dié van van Der Mewe geïdentifiseer is.

Maroela Media het vroeër berig ’n erg geskende liggaam is deur lede van die publiek in die veld buite dié dorp gevind waarna die polisie die liggaam aanvanklik geïdentifiseer het as dié van Van der Merwe.

Hennie De Beer (Foto: Facebook)

Foto’s van die liggaam is toe aan sy naasbestaandes gestuur om hulle van sy dood in kennis te stel. Dit was egter eers nadat sy broer die liggaam in die lykshuis in Komatipoort moes gaan uitken dat dit aan die lig gekom dat die slagoffer eintlik die vermiste Hennie de Beer (55) van Machadodorp is.

De Beer het die dag waarop hy vermoor is Komatipoort toe gery vir werk en het beplan om dieselfde dag nog terug te keer toe sy werksvoertuig vermoedelik buite Komatipoort gekaap is. Hy is daarna grusaam vermoor.

“Die twee Hennies het op ʼn haar na mekaar gelyk. [Hulle] was identies. Hulle kon ʼn tweeling gewees het. Alles is dieselfde, behalwe hul ouderdomme,” het Ester Voight, Van der Merwe se suster, verlede maand aan Maroela Media gesê.

Die soektog na Van der Merwe is dus nou afgehandel, het Zwane gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Skroef ·

Identies? Ek het my oë seer gekyk maar sien elke keer twee heeltemal verskillende mans?

HFC ·

Dit kan jy weer sê. Darem bly daar is nog iemand wat vermis was lewendig gevind.

Jj van Loggerenberg ·

Die plakkaat sê dat hy sy selfoon agter gelaat het en verdwyn het. Hoe is dit dan moontlik dat sy selfoon by hom gevind is? Die stories rym nie.

wilma ·

Ek ken nie die persoon se omstandighede nie, maar ek maak die afleiding dat hy dalk wou wegkom van sy daaglikse bestaan. Dankbaar dat hy lewendig gevind is.

Chris ·

Sy bou en lyfvorm is dieselfde en as mens na die bebloede fotos kyk sou alby eenders lyk. Hy het blykbaar meer as een selfoon gehad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.