Vermiste hond uit see gered

Die NSRI se Cameron Green (links) en Vincent Landman (regs) by Xena na sy gered is. Foto: NSRI

Die NSRI se Cameron Green (links) en Vincent Landman (regs) by Xena na sy gered is. Foto: NSRI

ʼn Labrador wat oor die naweek in Strand in die Wes-Kaap vermis geraak het, is uit die see gered.

Clive Tesner van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het gesê ʼn lid van die publiek het die tweejarige teef genaamd Xena Maandag by ʼn winkel in die Strand opgemerk en besef dit is die hond wat oor die naweek vermis geraak het. Die persoon het die hond probeer kalmeer en vang en het die Gordonsbaai-dierewelsynsvereniging in kennis gestel.

Die dierewelsynsvereniging het ʼn inspekteur na die toneel ontbied maar die vreesbevange hond het toe reeds op die vlug geslaan. “Die inspekteur het die hond agternagesit en gesien hoe die hond by Hendon Park in die see spring en meegesleur word.

Die NSRI se reddingspan by Gordonsbaai is kennis gestel en het ʼn vaartuig uitgestuur. Die bemanning van ʼn vissersboot het intussen vir Xena gewaar en tot haar redding gekom. Die NSRI se personeel het die hond in ʼn kombers toegedraai en na hul basis geneem waar sy vir hipotermie behandel is.

Lede van die Gordonsbaai-dierewelsynsvereniging het intussen by die NSRI se basis aangekom en die hond in hul sorg geneem. Die hond is deur ʼn mikroskyfie geïdentifiseer en haar eienaars is gekontak. Die eienaars het Xena na ʼn veearts geneem waar sy Maandagaand gehou sal word vir behandeling en observasie.

Xena sal na verwagting ten volle herstel en kan reeds Dinsdag huis toe gaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Lee Ann ·

So trots dat daar nog mense is wat omgee. Waarlik omgee. Baie dankie dat julle die dier gered het.

Duitswes ·

BRAVO!! Knap gedaan aan almal wat ‘mens se beste vriend’ nog ‘n kans gegun het. Redding dra meer gewig as misdaad want dit verg integriteit en WARE LIEFDE.

christine ·

Mooi dankie vir waarlike redders julle is HEROS in alle omstandighede. Onthou nogdie nag toe Celi 1 op die sandbank geloop het julle jul eie lewens op die spel geplaas om die Turke uit hulle rammelkas te kry in n nag van rowwe see.Dit lyk nie altyd of die publiek julle genoeg waardeer nie daarom baie dankie ouens. Ek sien hoe julle oefen en opoffer

kelly ·

die mense is nou ‘n voorbeeld vir die spul wat in kanada gaan toi toi het !!! knap gedaan…… ek sê dankie vir die mense wat jul is en jul diens….. TROTS op julle!!

neelsie ·

Goeie nuus !!
Behoort hoofnuus te wees.
Dankie aan NRSI.
Julle is n voorbeeld van dienslewering.

Elizabeth ·

So baie goeie mense daarbuite … net jammer die slegtes steel so dikwels die kollig. So bly vir die hond!!! Elke lewe is kosbaar!

Ludwig ·

Wonderlik! As diereliefhebber sê ek dankie aan almal betrokke. Ek noem dit net dat daar in die berig na “Strand” verwys word. In die Wes-Kaap is die plek bekend as “die Strand”. Dis eintlik Somerset-Strand, maar is lankal net “die Strand”.

Amanda Van Vuuren ·

Ek dank die Here uit my siel vir hierdie liefdesdaad! Mag Hy almal betrokke ryklik seen altyd…

M'Lady ·

Hierdie mense moet Zuma se orders vir heldedade ontvang nie gestorwe vryheidsvegters (terroriste) nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.