Vermiste hond veilig opgespoor ná kaping

Foto: Facebook via Kelsey Hendricks op Watershedding Western Cape.

Sasha, die vyfjarige Labrador-kruising-teef wat Donderdag vermis geraak het tydens ʼn kaping in Kaapstad, is veilig teruggevind.

Maroela Media het vroeër berig Michelle Barnard, direkteur van die hondewelsynsorganisasie Rescue Is The New Black, het Sondag aan Maroela Media gesê Sasha is vroeër die dag in die Montana-voorstad opgemerk.

“Baie mense is uit in die omgewing om na haar te soek. Ons hoop sy word gevind voor die storm ons tref,” het Barnard Sondag gesê.

Kelsey Hendricks, wat gehelp het in die soektog na Sasha, het op Facebook geskryf Sasha is kort daarna naby die lughawe gevind. Volgens Hendricks het Sasha ʼn oop wond aan haar kop gehad en is sy na ʼn veearts geneem.

Maroela Media het Saterdag berig ʼn R10 000-beloning is uitgeloof om Sasha op te spoor nadat haar 59-jarige eienaar se voertuig omstreeks 14:00 by haar huis in Rondebosch in die oprit na haar huis gekaap is.

Foto: Facebook via Kelsey Hendricks op Watershedding Western Cape.

Sasha was saam met haar eienaar in die motor en die eienaar het aan die kaper se keel vasgehou in ʼn poging om haar hond te red. Sy is ʼn ent saam met die voertuig gesleep. Die polisie het sowat tien minute later die voertuig by die aansluiting van Robert Sobukweweg en Valhallarylaan in Valhallapark voorgekeer en die verdagte in hegtenis geneem. Dit is toe dat Sasha uit die voertuig gespring en weggehardloop het.

Sasha se eienaar sterk steeds in ʼn hoësorgeenheid aan. ʼn Gebreekte rib het glo deur haar long gesteek en sy het ook ander beserings opgedoen. Volgens Hendricks het sy wel ʼn foto van Sasha ontvang en kan sy “rustig slaap vanaand” [Sondagaand”].

Barnard kon ondanks verskeie pogings nie vir kommentaar bereik word nie.

Rescue is the New Black het wel op sy amptelike Facebook-blad bevestig dat Sasha gevind is. “Sasha is gevind, ʼn reusedankie aan almal wat gehelp, gebel, boodskappe gestuur en gesoek het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Rikku ·

Dankie aan almal wat gehelp soek het na Sasha. Dankie Jesus dat sy veilig gevind was.

Tanja ·

Ek is so bly die areme woefie kind is opgespoor shame dis hart verskerend as hulle weg is en jy weet nie waar hulle nie

Ander Annie ·

So bly Sasha is veilig. Ek hoop Sasha se eienaar herstel nou vinnig en dat Sasha ook mooi gesond sal word. So bly dat sy gevind is voordat die bibber weer ons tref. Dankie aan almal wat gehelp het.

Theresa B ·

Ek is SO bly. Mag sy ook baie liefde en pypgoed kry vir daardie einde aan haar gesig. Bly sy en haar eienaar sal mekaar weer kan sien.

belinda ·

baie sterkte aan die eienaar, baie bly hond se kind is gevind

Johan ·

Goeie nuus. Dankie aan almal wat help soek het en sy/haar deel bygedra het.

Wilma ·

Ek is bly Sasha is gevind Dankie aan almal wat gehelp het met Sasha Baie Sterkte aan eienaar.

Lynette ·

Ek hoop die persoon wat haar opgespoor het, het die belonings-geld aan die diere-organisasie RESCUE IS THE NEW BLACK geskenk.

GM ·

Ek is bly die woef is gevind. Ek hoop die persoon is so goedhartig en skenk ‘n gedeelte van die beloning aan die DBV of so ‘n tipe organisasie.

Oujongvrou ·

Lynette nou waarom moet sy dit doen. Sy Het mos help soek vir daai meevallertjie. Ek sal vanaand ook bair beter slaap noudat die hond gevind is. Sy moes so bang gewees het

Nikita ·

Ja shame, sy moes bang honger & dors gewees het. Soooo bly Shasha is veilig terug by haar huis.

Nettie ·

Ai, Sasha – ek is so bly jy is veilig, honnekind!

Luister nou asseblief mooi vir dié tannie, honnekind …… Jou mense-mamma is baie eina in die hospitaal, want sy het hard baklei vir jou. Jou mense-mamma gee vir jou goed kos, vat jou vir stappies en ritte in die motor en sy vat jou veearts toe as jy siek is of ingespuit moet word.

Volgende keer as iemand nou weer so iets doen, honnekind ….. BYT HOM!!!! Hard en DEEGLIK. As jy nie weet hoe nie, honnekind, kom bly so ‘n week by my, dat my Rottweiler en Alsatians jou mooi kan leer …..

Lana ·

Baie dankbaar dat Sasha gevind is.
Hoop julle albei herstel vinnig!

Anya ·

My dag is gemaak! Ek het gebid Sasha word gevind, ter wille van hond en eienaar. Mag beide goed aansterk en die eienaar spoedig herenig word met beide haar honde. Dankie vir wonderlike mense!!!

Ben ·

Eks baie baie baie bly sy is gevind en veilig. Haar baas moet nou vinnig herstel dat hulle mekaar se geselskap kan geniet. Daar gebeur nog goeie dinge in SA.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.