Vermiste Houtbaai-vrou se liggaam gevind

Houtbaai. Argieffoto

ʼn Vrou wat vermis geraak het nadat sy in die Karbonkelberg by Houtbaai in die Wes-Kaap gaan stap het, se liggaam is Dinsdagoggend gevind.

Johann Marais van die Wildernis-soek-en-redding (WSAR) het gesê ʼn soektog na die vrou is van stapel gestuur nadat drie mense Maandagaand aangemeld het dat hulle ʼn vrou se hulpkrete gehoor het. Die soektog is later opgeskort nadat winderige toestande die soektog bemoeilik het. Die soektog het vanoggend om 06:00 hervat en die vrou se liggaam is kort daarna gevind.

Volgens Marais moes die liggaam weens die gevaarlike plek waar dit gevind is met ʼn helikopter van die berg verwyder word. Reddingswerkers is ook met behulp van ʼn helikopter van die berg af gebring.

Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, het gesê die vrou, ʼn 32-jarige Malawiese vrou, het vermoedelik geval toe sy gaan stap het. Haar liggaam is deur haar man uitgeken. ʼn Geregtelike doodsondersoek word gedoen.

Marais het ʼn beroep op die publiek gedoen om altyd in ʼn groep te gaan stap en ʼn selfoon en kaart saam te neem. “Indien jy verlore raak, bly waar jy is en reddingswerkers sal jou kom kry,” het hy gesê. Hy het sy medelye aan die familie van die oorledene betuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.