Vermiste jokkie se liggaam opgespoor

Argieffoto: Kent Williamson

Die “verkoolde oorblyfsels” van ʼn 24-jarige jokkie van Turffontein in Johannesburg wat sedert Maandag vermis is, is Saterdag in Benoni opgespoor.

Brig. Vishnu Naidoo, woordvoerder van die polisie, sê die polisie kon danksy ʼn wenk van die nasionale misdaadintelligensie-eenheid daarin slaag om ʼn 34-jarige man in verband met die moord vas te trek.

Naidoo sê die polisie het die 34-jarige man laat Vrydagaand in hegtenis geneem, waarna hy hulle na die terrein in Benoni geneem het waar hy die jokkie se liggaam gestort het.

“Die man se liggaam was heeltemal verkool. Dit is in dié stadium nie seker hoe hy gesterf het nie, en die polisie wag nog vir die uitslag van die nadoodse ondersoek. Ons kan in dié stadium nie bespiegel of hy reeds voor die tyd oorlede was of nie – wat ons wel kan sê, is dat die man ʼn uiters grusame moord gepleeg het,” sê Naidoo.

Volgens hom sal die uitslag van die nadoodse ondersoek in die komende week bekend gemaak word.

Die 34-jarige man verskyn Maandag in die Johannesburgse landdroshof op aanklag van moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Wanda Beneke ·

Ai Maroela. In die week is dit konkreet vir ‘n beton blad en nou ‘n jokkie. Ons praat nie die Afrikaans nie.

Cyril Blackburn ·

Dagsê Wanda
Dankie vir jou kommentaar! “Jokkie” is inderdaad die regte benaming vir ʼn beroepsryer volgens die vyfde uitgawe van die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. Ander benamings kan moontlik verwarring veroorsaak m.b.t. motorrenjaery/motorsport as mens nié “jokkie” gebruik nie. Jy is natuurlik in die kol met “konkreet” wat “beton” moet wees. Baie dankie!
Groetnis
Cyril nms Maroela Media

Cherokee ·

Watter woord wou (of sou) jý gebruik het om ‘n jokkie se beroep te beskryf, Wanda?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.