Die 21-jarige vrou van Kuilsrivier in die Wes-Kaap wat op 23 Junie die laaste keer lewend gesien is, se liggaam is gevind.
Sers. Noloyiso Rwexana, woordvoerder van die polisie, het gesê Chantelle Matthyssen se liggaam is Maandagmiddag op ’n plaas naby Wellington gevind. “Haar liggaam is met takke bedek.”
Volgens Rwexana is ’n 47-jarige man kort daarna, omstreeks 18:00, deur speurders van die Wellington-polisie in hegtenis geneem in verband met die moord op Matthyssen.
Die omstandighede rondom die voorval word ondersoek. Rwexana het gesê ’n nadoodse ondersoek sal gedoen word om die oorsaak van Matthyssen se dood vas te stel.
Die verdagte sal Woensdag in die Wellington-landdroshof verskyn op aanklag van moord.
Lt.kol. Andrè Traut, polisiewoordvoerder, het vroeër gesê Matthyssen is glo Wellington toe om te gaan werk soek. “Sy het haar ma gekontak om te sê dat sy veilig aangekom het, maar het nie weer daarna haar ma gekontak nie.”
Matthyssen laat ook ’n driejarige seuntjie agter.
Dit is werklik jammer dat so jonk vrou die slagoffer van ‘n boosdoener moes wees