Vermiste Kaapstad-egpaar: Hof hoor oor ‘moordkomplot’

Sayefudeen del Vecchio buite die Verulam-landdroshof. Foto: ANA

In ʼn verklaring wat Dinsdag in die hof voorgelees is rakende die verdwyning van die plantkundiges Rodney (73) en Rachel Saunders (64), het skrikwekkende inligting aan die lig gekom van ʼn beweerde moordkomplot en sameswering om van die liggame ontslae te raak.

Die drie verdagtes wat aangekla word in verband met die verdwyning van die Saunders-egpaar van Kaapstad het Dinsdag in die Verulam-landdroshof in Durban in KwaZulu-Natal verskyn om aansoek vir borgtog te doen.

Die verdagtes is Sayfydeen Aslam del Vecchio (37) en Fatima Patel (27), wat onder Islamitiese wetgewing getroud is en glo bande het met die Islamitiese Staat (Isis), en Thembamandla Xulu (19), wat by die medebeskuldigdes gewoon het. Die verdagtes staan tereg op onder meer aanklagte van ontvoering, aanranding en roof. Del Vecchio en Patel is op 15 Februarie in hegtenis geneem en Xulu op 25 Februarie.

Al drie verdagtes word daarvan verdink dat hulle die Saunders-egpaar ontvoer en aangerand het. Die verdagtes word ook daarvan verdink dat hulle die egpaar se Land Cruiser en meer as R700 000 uit hul bankrekening gesteel het.

Hoewel die Saunders-egpaar steeds gesoek word, was die besonderhede wat in die verklaring vervat is wat aan die hof voorgelees is, die eerste aanduiding dat hulle moontlik nie meer lewe nie. Daar is vir die laaste keer op 8 Februarie van die Saunders-egpaar gehoor. Hulle was volgens die Britse webwerf Mirror voor hul verdwyning besig om ʼn natuurprogram vir die BBC saam met die televisieaanbieder Nick Bailey te verfilm.

Ao. Anuresh Lutchman, die ondersoekbeampte in die saak verbonde aan die Valke se eenheid vir misdade teen die staat, se beëdigde verklaring is deur die staat ingedien om die beskuldigdes se borgtogaansoek teen te staan.

Lutchman is van mening dat die beskuldigdes ʼn gevaar vir die internasionale samelewing kan inhou, met die ondersoek kan inmeng en ander persone kan waarsku wat steeds deur die polisie gesoek word indien hulle borgtog toegestaan word.

Lutchman het gesê die staat het bewyse van vele geheime gesprekke op gekodeerde platforms wat tydens die verhoor as bewyse gebruik gaan word.

“Op 9 Februarie 2018 was daar gesprekke om voor te berei om die kuffar [ʼn ongelowige] te vermoor, hul bondgenote te ontvoer en om infrastruktuur te vernietig om angs in die hart van die kuffar te plaas,” lui Lutchman se verklaring.

“Op 10 Februarie het Del Vecchio aan Patel en Bazooka [die bynaam van ʼn man wat steeds deur die polisie gesoek word] genoem dat daar ʼn bejaarde egpaar in die woud is, dat die egpaar ʼn “goeie jag” is en dat hulle toerusting het. Die gesprek het tussen die beskuldigdes voortgegaan en later het hy [Del Vecchio] bevestig dat hy die teikens het.”

Nick Bailey saam met Rodney (73) en Rachel Saunders (64) (Foto: Twitter via @nickbailey365)

Lutchman sê verder op 10 Februarie, in ʼn onverwante gesprek, het Del Vecchio leiding gegee deur die volgende te noem: “Wanneer die broers in Kenia uitgaan om die werk te doen, is dit belangrik dat die liggaam van die slagoffer nooit gevind word nie en dit ʼn saak van ʼn vermiste persoon bly.”

Luidens die verklaring het Del Vecchio twee dae later in ʼn gesprek op Telegram, ʼn gekodeerde app vir slimfone, bevestig hy “vat baie geld van ʼn kitsbank”. Die staat beweer Del Vecchio en Patel het honderde duisende rande uit Rachel se rekening onttrek.

Lutchman se verklaring beskryf ook hoe hy ʼn Isis-vlag op Del Vecchio en Patel se perseel gevind het. Ander items waarop die Valke beslag gelê het, is onder meer ʼn hommeltuig, kamptoerusting, twee kragopwekkers en verfbal-toerusting wat met Rachel se bankkaart gekoop is.

Lutchman noem ʼn GPS-toestel wat aan die Saunders-egpaar behoort is ook tydens die soektog op hul perseel gevind. Die reeksnommer op die toestel bevestig dat dit die eiendom van die Saunders-egpaar is.

“Die egpaar se Toyota Land Cruiser is op 18 Februarie in die Verulam-omgewing gevind nadat ʼn uitgebreide soek-en-reddingspoging van stapel gestuur is in die Ngoye-woudgebied. ʼn Forensiese ondersoek wat op die voertuig uitgevoer is, het aangedui daar is menslike bloed in bak van die voertuig.”

Die Ngoye-woud in Zoeloeland is ʼn wêreldwye erkende bestemming vir plantkundiges en voëlliefhebbers.

Volgens Lutchman het Del Vecchio iemand ook via Telegram raad gegee hoe om ʼn bom te maak en is ʼn handleiding, “MujGuide”, op ʼn digitale toestel, aan Del Vecchio gevind. Die handleiding bevat “hoogs relevante besonderhede” oor hoe om ʼn terreuraanval uit te voer en bomme te maak.

Oor Xulu se betrokkenheid in die saak lui Lutchman se verklaring dat twee selfone wat aan die Saunders-egpaar behoort, in sy besit gevind is.

“Hy [Xulu] kon nie ʼn redelike verduideliking gee hoe hy in die besit van die twee selfone gekom het nie en is gevolglik in hegtenis geneem.”

Lutchman noem dat Patel ook kontak gehad het met Tony Lee en Brandon-Lee Thulsie, die sogenaamde Terreur-tweeling wat in Julie 2016 in Johannesburg in hegtenis geneem is op aanklagte wat met terrorisme verband hou.

Adv. Jay Naidoo, Del Vecchio en Patel se regsverteenwoordiger, het nie ʼn formele borgtogaansoek ingedien nie. Uitspraak op Xulu se aansoek word voorbehou.

Maroela Media het op 21 Februarie berig ʼn landswye soektog na die Saunders-egpaar is van stapel gestuur nadat hulle onder raaiselagtige omstandighede verdwyn het. Die egpaar woon al sowat 25 jaar in Kaapstad, maar het ook burgerskap in die Verenigde Koninkryk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Eish ·

Die waarskuwing wat Brittanje aan sy burgers uitgereik het was dus in die kol. Die helhool se intelligensie gemeenskap is vas aan die slaap, soos Jaques Pauw se boek ook uitwys.

Cherokee ·

Wanneer na Pauw verwys word, moet nooit vergeet word dat hy hard gewerk het daarvoor om Suid Afrika te beland waar dit is. Moet nie Max du Preez se naam op die omslag van sy boek miskyk nie. Dit is Pauw se geselskap. Hy is een van die groot liberaliste wat daarvoor gewerk het dat Suid Afrika word wat dit is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.