Vermiste Kaapstad-egpaar: ‘Isis-verdagte’ verwerp regshulp

Sayefudeen del Vecchio buite die Verulam-landdroshof. Foto: ANA

Die borgtogaansoeke van vier mense wat verdink word van die verdwyning van die plantkundiges van Kaapstad, Rodney (73) en Rachel Saunders (64), is Donderdag in die Verulam-landdroshof in Durban uitgestel aangesien een van die beskuldigdes sy regshulpraadprokureur verwerp het.

Die verdagtes is Sayfydeen Aslam del Vecchio (37) en Fatima Patel (27), wat onder Islamitiese wetgewing getroud is en glo bande het met die Islamitiese Staat (Isis), Thembamandla Xulu (19), wat by die medebeskuldigdes gewoon het, en Ahmad Jackson Mussa (36), ook bekend as Bazooka. Die vier het voor landdros Chris Annamalai verskyn, wat ingestaan het vir landdros Valaramen Kathravaloo.

Al vier verdagtes staan tereg op aanklagte van ontvoering, aanranding, roof en moord. Del Vecchio en Patel staan ook tereg op aanklagte wat verband hou met terrorisme.

Del Vecchio en Patel is op 15 Februarie in hegtenis geneem en Xulu op 25 Februarie. Mussa, ʼn Malawiër, is op 22 Maart in hegtenis geneem en het internasionale nuus gehaal.

Xulu se borgtogaansoek is reeds verwerp en hoewel Donderdag se verrigtinge vir Patel se borgtogaansoek geskeduleer was, het die hof gehoor Del Vecchio wil ook om borgtog aansoek doen. Mussa moet nog formeel om borgtog aansoek doen.

Die verrigtinge kon egter nie Donderdag voortgaan nie aangesien Mussa sy regshulpraadprokureur verwerp en aangedui het dat hy vir private verdediging gaan aansoek doen.

Nadeem Mohamed, Patel en Del Vecchio se regsverteenwoordiger, is deur Annamalai berispe nadat dit aan die lig gekom het dat Mohamed tydens ʼn kort verdaging die aanhoudingselle by die hof saam met Mussa se aanvanklike regshulpprokureur ingegaan en met hom gepraat het.

Annamalai het dit as belangekonflik bestempel en gesê Mohamed moes van beter geweet en die regte protokol gevolg het as hy Mussa wou verteenwoordig.

Mohamed het Patel en haar broer verlede jaar ook verteenwoordig toe daar in 2016 tydens ʼn  polisieklopjag koeëls en ʼn skokgranaat in hul besit gevind is. Op dieselfde dag het die polisie ʼn klopjag by Tony Lee en Brandon-Lee Thulsie, die sogenaamde “terreur-tweeling”, se huis in Johannesburg uitgevoer. Hulle is in hegtenis geneem op aanklagte wat met terrorisme verband hou. Mohamed het ontken dat Patel enige bande met die tweeling se saak het en hulle is gevolglik op borgtog van R5 000 elk vrygelaat.

Nick Bailey saam met Rodney (73) en Rachel Saunders (64) (Foto: Twitter via @nickbailey365)

Maroela Media het vroeër berig die Saunders-egpaar het tussen 10 en 15 Februarie in raaiselagtige omstandighede naby die Bivanedam in die Vryheid-omgewing verdwyn. Die egpaar woon al sowat 25 jaar in Kaapstad, maar het ook burgerskap in die Verenigde Koninkryk.

Kapt. Lloyd Ramovha, woordvoerder van die Valke, het Donderdag aangedui die soektog na die vermiste egpaar “of hul liggame” duur voort.

In ʼn verklaring wat in Maart aan die hof voorgelees is, is daar die eerste keer aanduiding gegee dat die egpaar moontlik nie meer lewe nie. Daar is die laaste keer op 8 Februarie van die Saunders-egpaar gehoor. Hulle het volgens die Britse Mirror voor hul verdwyning ʼn natuurprogram vir die BBC saam met die televisieaanbieder Nick Bailey verfilm.

AO Anuresh Lutchman, die ondersoekbeampte in die saak verbonde aan die Valke se eenheid vir misdade teen die staat, het vroeër in ʼn verklaring wat aan die hof voorgehou is, gesê die staat het bewyse van vele geheime gesprekke op gekodeerde platforms wat tydens die verhoor as bewyse gebruik gaan word.

“Op 9 Februarie 2018 was daar gesprekke om voor te berei om die kuffar [ʼn ongelowige] te vermoor, hul bondgenote te ontvoer en infrastruktuur te vernietig om angs in die hart van die kuffar te plaas,” lui Lutchman se verklaring.

“Op 10 Februarie het Del Vecchio aan Patel en Bazooka genoem dat daar ʼn bejaarde egpaar in die woud is, dat die egpaar ʼn “goeie jag” is en toerusting het. Die gesprek het tussen die beskuldigdes voortgegaan en later het hy [Del Vecchio] bevestig dat hy die teikens het.”

Lutchman sê op 10 Februarie, in ʼn onverwante gesprek, het Del Vecchio leiding gegee deur die volgende te noem: “Wanneer die broers in Kenia uitgaan om die werk te doen, is dit belangrik dat die liggaam van die slagoffer nooit gevind word nie en dit ʼn saak van ʼn vermiste persoon bly.”

Luidens die verklaring het Del Vecchio enkele dae later in ʼn gesprek op Telegram, ʼn gekodeerde app vir slimfone, bevestig hy “vat baie geld van ʼn kitsbank”. Lutchman se verklaring beskryf ook hoe hy ʼn Isis-vlag op Del Vecchio en Patel se perseel gevind het.

Lutchman noem dat Patel ook kontak gehad het met die Thulsie-tweeling.

Al vier verdagtes moet weer op 25 April in die hof verskyn.

Lees alle vorige berigte oor Rodney en Rachel Saunders op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Rupert Ashford ·

Interessant hoe sekere woorde se spelling verskil in verskillende werelddele…?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.