Vermiste Kaapstad-egpaar: Verdagtes hoor oor borgtog

Nick Bailey saam met Rodney (73) en Rachel Saunders (64) (Foto: Twitter via @nickbailey365)

Twee van die verdagtes wat aangekla word van die ontvoering van en moord op Rodney (74) en Rachel Saunders (63) is Donderdag in die Verulam-landdroshof borgtog geweier.

Landdros Irfan Khallil het aan Fatima Patel (27) en Sayefudeen Del Vecchio (38), wat onder Islamitiese wetgewing getroud is, gesê hy is tevrede dat daar prima facie-bewyse teen hulle is. Khallil het gesê die verdagtes kon nie bewys dat daar buitengewone omstandighede is om hul vrylating op borgtog te regverdig nie, soos verwag word van iemand wat tereg staan op ʼn skedule 6-oortreding.

Hy het gesê Patel en Del Vecchio se vrylating sal “openbare veiligheid ondermyn” en hulle kan moontlik probeer om landuit te vlug.

Patel en Del Vecchio staan saam met Ahmad Mussa, ʼn 36-jarige Malawiese burger, tereg op aanklagte van ontvoering, roof met verswarende omstandighede, diefstal, oortreding van die land se Wet op Terreur en twee aanklagte van moord. Del Vecchio word ook van opsetlike saakbeskadiging aangekla.

Mussa, wat sy aansoek om borgtog laat vaar het, het saam met die egpaar in die hof verskyn. Hy het op Del Vecchio en Patel se eiendom gewoon ten tyde van die beweerde misdaad en word as Del Vecchio se vriend bestempel. Die egpaar het op ʼn kleinhoewe in die Endlovini-gebied gewoon op die grens van die beskermde Ngoye Forest-reservaat, ongeveer 150 km noord van Durban.

Thembamandla Xulu (19) is saam met die egpaar in hegtenis geneem en word van roof en diefstal aangekla nadat die Saunders-egpaar se selfone in sy besit gevind is. Hy word nou apart verhoor.

Die Saunders-egpaar was plantkundiges wat in Suid-Afrika gewoon het, maar ook Britse burgerskap gehad het. Hulle het tussen 10 en 15 Februarie in die Vryheid-omgewing vermis geraak waar hulle vermoedelik op soek was na skaars plante. Rodney Saunders se liggaam is verlede maand deur DNS-toetse geïdentifiseer, maar die soektog na Rachel se liggaam duur steeds voort.

Adv. Jay Naidoo vir Del Vecchio en Patel het aangevoer die staat se saak is op aannames en nie op bewyse gebaseer nie. Adele Barnard, die staatsaanklaer, het egter gesê die twee soek-en-beslagleggingsoperasies wat by die egpaar se kleinhoewe gedoen is, het verskeie items opgelewer wat met Rachel Saunders se bankkaart gekoop is, met die strokies van hierdie items wat in Patel se handsak gevind is.

Sayefudeen del Vecchio buite die Verulam-landdroshof. Foto: ANA

ʼn GPS-toestel wat aan die Saunders-egpaar behoort het, is ook gevind, saam met digitale kommunikasie tussen Mussa, Patel en Del Vecchio wat aandui dat hulle saam werk. Daar is ook beslag gelê op ʼn bloedbevlekte broek wat aan Del Vecchio behoort. Die bloed is later geïdentifiseer as dié van Rodney Saunders.

Del Veccchio het ook na bewering iemand deur Telegram raad gegee oor die maak van ʼn bom, terwyl Patel na bewering ʼn 15-jarige tiener gehelp het om in April 2015 by die Islamitiese Staat (Isil) in Irak en die Levant aan te sluit. Die egpaar het ook glo ʼn Isil-vlag in hul besit gehad.

Mussa het glo ook in ʼn verklaring gesê dat Patel hom wakker gemaak het om Del Vecchio te help om die egpaar se liggame by die Tugela-rivierbrug af te stort.

Nadat die borgtoguitspraak gelewer is, het Naidoo hom aan die saak onttrek. Die egpaar het daarna gesê hulle sal om regshulp aansoek doen.

Hulle sal na verwagting vandag weer verskyn om hul regsverteenwoordiging te finaliseer.

Lees alle vorige berigte oor Rodney en Rachel Saunders op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.