Vermiste Kaapstad-egpaar: Vrou se liggaam ook geïdentifiseer

Nick Bailey saam met Rodney (73) en Rachel Saunders (64) (Foto: Twitter via @nickbailey365)

Rachel Saunders (64), wat saam met haar man, Rodney (73), op 8 Februarie vermis geraak het, se liggaam is ook geïdentifiseer. Die Saunders-egpaar was albei plantkundiges van Kaapstad en het in KwaZulu-Natal vermis geraak.

Kapt. Lloyd Ramovha, woordvoerder van die Valke, het Woensdag bevestig die voortdurende soektog na Rachel het uiteindelik resultate opgelewer.

“Haar oorskot is ná ʼn langdurige ondersoek deur die Valke en die polisie opgespoor. Die polisie se forensiese laboratorium het haar oorskot verlede week positief deur DNS-toetse geïdentifiseer,” het Ramovha gesê. Hy het nie meer inligting bekend gemaak oor waar en wanneer haar oorskot gevind is nie.

Rodney se liggaam is reeds in April geïdentifiseer. Volgens Ramovha is Rodney se liggaam op 17 Februarie deur ʼn visserman suid van die Tugelarivier in KwaZulu-Natal gevind. Die uitslae van die forensiese toetse wat die liggaam as dié van Rodney geïdentifiseer het, is op 25 April bekend gemaak.

Maroela Media het vroeër berig die Saunders-egpaar wat ten tyde van hul verdwyning in Kaapstad gewoon het maar ook burgerskap in die Verenigde Koninkryk het, het vermis geraak terwyl hulle ʼn natuurprogram vir die BBC saam met die televisieaanbieder Nick Bailey verfilm het. Hulle is vermoedelik in Vryheid in KwaZulu-Natal ontvoer. Die egpaar se voertuig, ʼn Land Cruiser, is later in Durban opgespoor, sowat 300 km van waar hulle vermis geraak het.

Sayfydeen Aslam del Vecchio (37) en Fatima Patel (27), wat onder Islamitiese wetgewing getroud is en glo bande het met die Islamitiese Staat (Isis), Thembamandla Xulu (19), en Ahmad Mussa (36) is sedertdien in verband met die egpaar se verdwyning in hegtenis geneem.

Die egpaar se selfone is in Xulu se besit gevind ten tyde van sy inhegtenisneming.

Volgens Ramovha het Xulu intussen ʼn pleitooreenkoms met die staat aangegaan en is op 25 Mei tot drie jaar gevangenis, wat vir vyf jaar opgeskort is, gevonnis vir diefstal van die slagoffers se selfone.

Die ander drie beskuldigdes is steeds in aanhouding en moet weer op 24 Augustus in die Verulam-landdroshof verskyn. Hulle staan tereg op twee aanklagte van moord, ontvoering, roof met verswarende omstandighede en die besit van gesteelde goedere. Del Vecchio en Patel word ook aangekla van brandstigting en die besit van ʼn terreurgroep-vlag.

Lees alle vorige berigte oor Rodney en Rachel Saunders op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anoniemiseerder ·

Hulle is so links en doen dit. Mens gaan allerhande mal goed sien nader aan 18 Julie. Ons land het die komende partytjie en die meegaande plundery van geld nog nooit gesien nie!

Liberaal ·

Nee onder geen omstandighede sal die liberale massamedia dit aan die publiek verkondig nie, dit is mos nie wat op die liberale agenda geskryf staan nie. TV kykers moet van ander dinge ingelig word soos hoe cool Meghan die koninklike is.

Vra maar net ·

Wat het geword van Nick Bailey? Nerens lees ek iets van hom nie. Lewe hy of is hy ook oorlede?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.