Vermiste kind (9) se oorskot in rivier gevind

Argieffoto ter illustrasie. Foto: Pixabay.com.

WAARSKUWING: Die inhoud van die berig is grafies van aard en nie geskik vir sensitiewe lesers of kinders nie.

’n Negejarige meisie se oorskot is Vrydag in die Klein-Modderrivier in die Vrystaat gevind nadat sy byna ’n maand gelede vermoedelik deur haar ma se vriend ontvoer is.

Dié vriend is intussen in ’n hospitaal dood nadat gemeenskapslede hom aangerand het.

Kol. Thandi Mbambo, woordvoerder van die polisie, sê die polisie is Vrydag omstreeks 14:20 na die omgewing van Botshabelo ontbied nadat die onthoofde liggaam van ’n kind in die rivier opgemerk is. Ander liggaamsdele was ook verwyder.

Daar kon later vasgestel word dat die liggaam dié van klein Tariro Jonas is wat op 7 Maart vermoedelik deur haar ma se vriend ontvoer is.

Mbambo sê daar word beweer dat Kgotso Masukela (26) die kind se ma op dié betrokke dag aangerand het. Sy het ’n saak van aanranding by die polisie aanhangig gaan maak en Masukela het met haar dogtertjie vortgestap.

’n Saak van ontvoering is daarna aanhangig gemaak en die polisie het ’n soektog na Tariro van stapel gestuur.

Masukela is egter op 11 Maart omstreeks 23:00 deur gemeenskapslede opgemerk, na ’n naby geleë gebied gesleep en na bewering aangerand. Die polisie is die volgende oggend omstreeks 04:00 ontbied en het hom in ’n ernstige toestand aangetref.

Hy is na ’n hospitaal geneem waar hy voor sy dood aan die polisie gesê het dat hy Tariro se liggaam in die rivier gestort het.

Polisieduikers het sedertdien onverpoos na Tariro se liggaam gesoek totdat ’n verbyganger eindelik Vrydag die liggaam opgemerk het. Tariro se ma het haar uitgeken.

’n Nadoodse ondersoek sal gedoen word om die oorsaak van haar dood te bepaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Maggies

Waarom skok sulke gevalle nie meer nie? Raak ons mensdom stomp en afgeplat omdat dit té veel gebeur. Mense het net eenvoudig geen respek vir ‘n lewe nie. Dit is só hartseer.

Yvonne

Die wreedheid neem toe…net soos die Woord ons waarsku….Here wees ons genadig

Elize

Ek word naar. Gaan mens ooit van hierdie soort barbarisme ontslae raak? Ons word mense genoem maar daar is bitter min menslikheid oor.

Realis Thailand

Dit is Afrika
Jy kan niks anders verwag van afrika met die lae IK