Vermiste kind in spruit in Steynsrus gevind

Die spruit op die plaas Somerset-Oos (Foto: Verskaf)

Die kind wat nog vermis was nadat ʼn motor Sondagoggend deur vloedwater op ʼn laagwaterbrug op ʼn plaas in die Vrystaat meegesleur is, is gevind. Polisieduikers het sy liggaam Maandag uit die spruit geduik.

Frits Joubert en sy vrou, Antoinette, eienaars van die plaas Somerset-Oos naby Steynsrus, sê Karabo Kok (7) se liggaam is vroegmiddag gevind.

“My seun, Kobus, het net voor 13:00 vir my kom sê dat Karabo se liggaam gevind is,” vertel Antoinette.

“Sy liggaam is glo in dieselfde kuil as die ander twee kinders s’n – sowat 150 m verder af in die spruit as waar die kar tot stilstand gekom het – gevind.”

Brig. Motantsi Makhele, woordvoerder van die polisie, het bevestig dat Karabo Maandagmiddag deur polisieduikers uitgeduik is.

Lt.genl. Baile Motswenyane, die provinsiale polisiekommissaris in die Vrystaat, het die duikspan geloof vir hul harde werk om seker te maak dat Karabo se liggaam gevind word.

“Ek wil hierdie span duikers bedank vir hul toewyding, selfs in moeilike en gevaarlike omstandighede,” het Motswenyane gesê.

Maroela Media het vroeër berig dat ses kinders en ʼn volwassene ten tyde van die voorval verdrink het. Karabo, wat ook in die motor was, was tot vanoggend (Maandag) nog vermis.

Die gemeenskap het Sondag ure lank gespook om die kinders uit die bruisende waters te haal.

Daar was drie volwassenes en sewe kinders in die wit Honda Ballade toe dit meegesleur is. Twee volwassenes, Mohau Mokoena en Swartbooi Hlongwane, kon daarin slaag om uit die motor te kom en het oorleef.

Die liggame van Tshokolo Hlongwane (26), die bestuurder, en ses kinders, Thapelo Tekanya (4), Ntaoleng Mpeko (13), Relebohile Mpeko (9), Mojalefa Mosibi (12), Bokamoso Maphakisa (8) en Hopolang Monyatsi (6) is gevind.

Die insittendes het op die naburige plase Delarina en Kylami gewoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jaco ·

So 8 is oorlede en 2 het oorleef. Daar was dus 10 insittendes in ‘n gewone motor. Eintlik was die motor dus totaal oorlaai.

modiglianigirl ·

Jaco jou oordeel en ongevoeligheid vir ‘n situasie en lewens omstandighede waarvan jy geen kennis het is ongevraagd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.